Tokkie en Mariette van Manen; Tokkie en broer Cules.
Die vreugde van weersiens. Dié het ek en Tokkie Saterdag by ons “baken-laureus”-fees in ons “tent van samekoms” (so gedoop deur Sarel Venter van Bloemfontein) mildelik ervaar. Die teenwoordigheid van soveel vriende uit soveel fases van ons lewe het luister aan ons feesdag verleen.
Skoolmaats en studentemaats van lank voordat ek en Tokkie mekaar in 1964 ontmoet het, kollegas uit verskillende tydvakke, bure, Bybelstudievriende, Probusvriende (klub vir afgetredenes) en ander was versprei oor 12 tafels in die tent wat hier op Melkbos oor die breedte van ons grasperk gespan was met die gedruis van die branders in ons ore.
Een verbintenis was weens omstandighede onverteenwoordig: Ons hartsplek Sabiepark, waar ons langbeen om vuurtjies kuier. Hoe lief ons vir daardie stukkie aarde is, weet almal. Het ek gesê onverteenwoordig? ‘n Mooi klompie van Saterdag se gaste het al saam met ons om ‘n Sabieparkvuurtjie gesit. Steek hande op, het ek gevra. Van die 100 het 52 se hande in die lug geskiet.
“Al gaan ons ook die lewe in ‘n brokkie van ons hart bly hier.” So het ons Volkies in die jare 50 in ons skoollied gesing. Drie skoolmaats wat ook, soos ek, brokkies van hul harte op Potchefstroom agtergelaat het, was Saterdag hier. Hulle is Willie en Irna Hartzenberg en Anton Lombard.
Volkies van die 50’s.
Willie en Anton was saam in die Jack Pauwkoshuis en klasmaats tot matriek in 1957; albei ook in my eerste redaksie – die skooljaarblad waarvan ek die eerste skolier-redakteur was. Willie was dux-leerling. Slim derduiwel. Irna en die uwe was saam in die belydenisklas. Groot stories gesels as ons saans na Oom Bey (dr. Beyers Naudé) se kerk aanstap vir die katkisasie.
“Aan het oewer van de Schelftzee” het nie in die feestent opgeklink nie. Ons Kollegemanne sou dit wel, op zijn goeie Afrikaans, ‘n sterk traai kon gee. Vier van ons was teenwoordig: Ek en Pierre le Roux van die laat 50’s/begin 60’s en twee vroeëre modelle, Flip Nel en Jan Coetzee. Jan was in 1951 in Kollege – nogal ‘n paar jaar gelede!
Vier Kollegemanne
Bloemfonteiners het ingesluit Chris en Annette van Rensburg, ons beste bure nog saam met wie ons al baie ervarings gedeel het; ook ander kamerade in allerlei heilige en onheilige aktiwiteite. Teen Flip Nel (hierbo genoem) het ek krieket gespeel in die tradisionele wedstryd tussen Bill se Bulle (Welkom) en Colin se Kallers (Bloemfontein). Die oud-Volksraadslid vir Welkom het eers later self Bloemfonteiner geword toe hy in die politiek begin opgang maak het.
Lekker gewees om die volgende Volksblad-gesigte te sien: Nancy Oosthuysen, Johan van Wyk, Pierre van Manen, André Brink, Rina (Koen) van Rensburg en Francois Lötter, asook twee Volksblad-weduwees, Alta Geldenhuys (Kootjie, bestuurder, se vrou), en Marie Schnetler (Fred, motorredakteur se vrou).
Nancy is die veteraan. Sy het in 1954 by Die Volksblad ingeval. Het haar daar gekry toe ek einde 1958 die eerste keer as beurshouer van die koerant vakansiewerk gaan doen. Johan van Wyk – die “Oom” van Stop van Myne – was seker die gewildste in die tent. Baie wou net met hom ‘n geselsie aanknoop.
‘n Blommestorie soos min is dié van Alida Fourie, nou van Durbanville. Alida ken van blomme en blomme rangskik. Sy “doen” al die VanD’s se blomme van die jare 80 in Bloemfontein af. Etes in ons driedubbele motorhuis (die vorige eienaar se gimnasium) was ‘n jaarlikse instelling. Daarna in die Kaap by albei ons kinders, Johan en Marisa, se troues. Alida, met haar fyn oog vir mooi goed, was ook hoof-aankoper vir Tokkie se geskenkewinkel in die Mimosa Mall in die beginjare 90.
Pieter en Alida Fourie word deur Tokkie verwelkom. Mariette van Manen was gasvrou met die ooievaarstee vir Tokkie voor die geboorte van Marisa in 1974.
Vir kollegas uit die twee Volksblad-eras, van Beeld en van Naspers het ek ‘n pluimpie herhaal wat op 19/2/98 in my handskrif op die spyskaart van die Pers se afskeidsete vir my en Tokkie was: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte mense te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.” Geen rede om daaroor terug te krabbel nie.
Uit die veelbewoë Beeld-dae was net George Boshoff hier. Ek was die koerant se eerste nuusredakteur en George sy eerste kunsredakteur. Hy het later ‘n vermaarde tennisskrywer geword. Hy was ook die man wat hierdie Vrystater van wyn geleer het. Het Montpellier se huiswyn aanbeveel – ‘n wenner!
Danie Krynauw
Uit die hoofkantoordae was hier ‘n hele bestuurskader. In jare die senior is Danie Krynauw, wat hoof van Tydskrifte was. Hy het my touwys gemaak toe ek rou in die Kaap aankom. By hom o.m. die goeie advies gekry vir wanneer ‘n direkteur my oor syfers vasvra: “Kyk hom stíp in die oë en gorrel so oortuigend soos jy kan.”
Vir Jan Malherbe wat hoofbestuurder: noordelike koerante was, en Jean le Roux, hoofbestuurder: suidelike koerante, het ek altyd my Aäron en Hur genoem. Hoe het hulle nie hierdie Moses se arms orent help hou toe hy as koerantman skielik in die diep kant gegooi is as uitvoerende hoof: koerante nie!
Melkbossers was die grootste groep. Sterkste verteenwoordig was die Probusklub waaraan bobaasbraaier Sakkie Bruwer my in 1998 voorgestel het. Ek en Tokkie tel gereeld ons seëninge. Probus is ‘n spesiale groepie met warm omgeeharte vir mekaar. Die verbintenis gee ons steeds veel plesier.
Buiten die kinders, was die familie maar minnerig. My broer Cules Malan het uit Pretoria gekom saam met sy vrou, Dalene, en hul prokureurseun, Marcus. Die ander broer, Christo, is al baie jare land-uit. Hy bevind hom Doer Onder in NSW.
Wie ons geweldig gemis het, is swaer Fanie, Tokkie se enigste broer, wat ses weke gelede oorlede is. Hy was een van die joviaalste karakters wat ek geken het. Terwyl ons sonder die Van Wyks hier feesgevier het, het skoonsuster Maretha haar man se assies gestrooi by Waenhuiskrans waar die gesin kort voor sy dood ‘n onvergeetlike laaste keer voltallig byeen was.
Comentarios