Na ek verneem is daar van tyd tot tyd kursusse wat aangebied word oor resensies. PEN Afrikaans het betreklik onlangs een gehad. Ek weet nie wat die kursusgangers daar geleer word nie, maar ek hoop daar word mooi verduidelik hoe kosbaar dit is wanneer ’n mens ’n resensent kry wat in staat is om vervoering en tomelose geesdrif oor te dra.
Sulke resensies is nie volop nie. Daar is sekerlik boeke wat trometgeskal en luide gebasuin regverdig. Dit is net dat daar so min van die holderstebolder vreugde oor boeke deurkom.
Johan Myburg, die jongste ontvanger van die Hertzogprys, kom die naaste daaraan met sy resensie van Die meeste sterre is lankal dood, van Johann de Lange (Boeke24). Dis nie ’n resensie vir mense wat hul oë net wil laat gly oor die kopie nie. Dis ’n resensie vir stadig lees en uitknip, want jy weet jy gaan dit byderhand wil hê sodra jy die bundel aangeskaf het.
Myburg teken alle moontlike leidrade en leiding aan vir die liefhebber van digkuns, wetend dat die ontdekkings wat mens wil maak, selde op die koerantblad gaan gebeur. En dan vou hy sy resensie in met ’n opmerking wat vertaal kan word as ’n hoesanna in die hoogste hemele: “Die lees en herlees van Die meeste sterre is lankal dood is soos om na ’n naghemel met sterre te kyk – meteen sien jy nie alles raak nie. Maar hoe langer en met hoe meer verwysings jy kyk, hoe meer verwonder jy jou.”
Saggies skree.
Soms moet jy goed daaroor gaan nadink om te besef dat die resensent op ’n manier eie aan haarself die noot op sy hoogste ingesit het. Ek dink hier spesifiek aan Juliana Coetzer se bespreking van Connie Luyt se Waar onthou begin (Rapport Boeke).
Coetzer stip baie hinderlikhede in die roman aan, op só ’n manier dat mens dadelik besef die roman sal nie sonder meer bestempel kan word as ’n sukses nie. Maar dan sê Coetzer ook, aansluitend by die tematiek van die boek, dat ’n mens nooit moet vergeet hoe ’n boek jou laat voel het terwyl jy besig was om dit te lees nie. En die genoegdoening wat sy ervaar het, het baie lank agterna voelbaar gebly.
Daar is ’n verdere kategorie van jubeling, verwant aan die Finse tango, wat mens eers kan plaas as jy die resensent baie goed leer ken het deur die jare. Louise Viljoen is een van die mees ervare resensente van Afrikaanse literêre werke. Die mantel van Elize Botha het op haar skouers geval. Ek het haar al in die openbaar sien optree by verskeie geleenthede, en was nog altyd diep onder die indruk van die manier waarop haar skryfstyl haar manier van praat reflekteer – rustig, bedaard, ewewigtig.
Die enigste probleem daaarmee is dat mens op ’n ander manier die seine van groot vreugde moet soek. Haar resensie van Ryan Pedro se Pienk ceramic-hondjies dra al die tekens van haar inboor in ’n werk en delf vir die essensie daarvan. Dis ’n baie sterk resensie, maar die gedempte aanslag is misleidend. Die sleutel vir haar groot opgewondenheid is vervat in haar slot, waarin sy as senior resensent van Afrtikaanse literêre werke ’n nuwe ontwikkeling verwelkom: “Ryan Pedro en sy mede-debutante is duidelik besig om ’n nuwe klankbaan vir die Afrikaanse letterkunde te skryf. Dit is opwindende tye vir die taal.”
Net so.
コメント