Tokkie by die ou naambord,
Ek het ‘n “plaas” in Afrika… Tussen Karen Blixen van “Out of Africa” se PLAAS-plaas in Kenia en die Van Deventers se plasie-plaas in Mpumalanga bestaan ‘n hele paar verskille. Een is omvang.
Ons s’n in Sabiepark – ‘n spikkeldeeltjie van die groter Lisbon-landgoed – is volgens transportakte T22558/98 net 8 982 vierkante meter – ‘n rugbyveld en ‘n stukkie. Maar vir ons is dit oorgenoeg. Hier voel ons so vry soos mej. Blixen in Kenia moet gevoel het.
Sabiepark is hier aan die oujaar voorop in ons gedagtes om twee redes: ons begin pak vir seker al ons plus-minus 50ste bosvakansie (ons vlieg op 8 Januarie), en ons roep in ons herinnering die kennismaking 20 jaar gelede met daardie geliefde 8 982 vierkante meter aan die einde van 1997.
Sabiepark self het ons al in 1988, 11 jaar tevore, ontdek. Op pad wildtuin toe het ons die eerste eerste keer oornag in die huis van Fickie Visagie; daarna ‘n keer of wat in die huis van Hannes Meiring en Ronnie Schoombee. ‘n Saadjie moes toe geplant gewees het wat ‘n dekade later, rondom my aftreeplanne einde 1997, ontkiem het.
Oud-kollega Danie Krynauw, gewese uitvoerende hoof: tydskrifte, en sy vrou, Kathleen, het in Oktober by die Pers kom inloer. Danie en Kathleen het destyds in die winter na die gholflandgoed Kruger Park Lodge, net buite Hazyview, uitgewyk. In die somer was hulle op Hermanus. Die laaste jare woon hulle nou in Helderberg Village.
Terwyl ons daardie dag in die Pers-kafeteria “Van Alle Kante”, met die onoortreflike uitsig op berg en see, saam koffie drink, kry ek uit die bloute die bevlieging om ook met so ‘n swaeltjie-leefstyl te eksperimenteer, nesd die Krynauws. Tokkie is gelukkig te vinde.
Ek skryf dadelik vir Fickie Visagie en Ronnie Schoombee en vra of ons hul plekke die volgende winter vir ‘n paar weke kan huur. Ek noem my plan ook terloops Colin Hickling van Bloemfontein. Dié onderneem om by Ken Saggers, ook ‘n Sabiepark-eienaar, namens my aan te klop.
Saggers laat weet uit Johannesburg: maar wil ek nie sommer my eie plek koop nie? Jean Smythe, ‘n weduwee van Vishoek, soek ‘n koper vir haar huis, waar sy na haar man se dood ongereeld kom.
Swembad en watergat – min het verander.
Sommer dieselfde dag bel ek vir Jean. Het sy vir my ‘n plan en foto’s? Sy het selfs iets beter: ‘n video wat vir ‘n gestremde vriendin in Johannesburg vervaardig is – een wat jou van vertrek tot vertrek neem, dan stadig met die trappies op boontoe. Boonop word al die diere wat oor ‘n tydperk van maande kom besoek aflê het, in ‘n klompie kort minute ge-enkapsuleer.
Die video en ‘n geskeurde, water-beskadigde argiteksplan, word sommer die volgende dag saam met ‘n vriendin stad toe gestuur, en dieselfde aand by my seun en skoondogter, Johan en Mariza, met positiewe kommentaar uit alle oorde betrag.
Die gogga het hard gebyt.
Ons begin onderhandel. Ek weerstaan die druk van my klaar verowerde hart, en kondig aan ek moet darem eers die plek sien. ‘n Mens koop nie ‘n eiendom 2 000 kilometer ver op grond van ‘n tuis-video nie, allawêreld! Die geleentheid om dinge self deurte kyk, kom in November.
Ek en Tokkie spring met ‘n geleende motortjie in Johannesburg weg Sabiepark toe. Ons ry vol afwagting met kloppende harte, in Apiesdoring af na Wildevy 154: Ukuthula – die huis van Jean en wyle Mike Smythe. Die naam beteken: vrede van binne.
Toe die skuifdeur oopgly op die woonkamer met die hoë grasdak en die rottangmeubels, wis ek al: ek hou hiervan. Ek behou egter my kommentaar voor, wagtende vir Tokkie om die eerste woord te spreek. Sy laat my in spanning wag.
Ons gaan stap die middag en kry ‘n olifant net oorkant die grensdraad, maar braai amper uit in die somergloed. Toe sy bra gehawend by die huis kom, dog ek dis neusie verby. Maar die swembadjie se water is ‘n lafenis – en ‘n gebrek aan swemklere is in die bos gelukkig nie ‘n struikelblok nie!
Die aand toe die vuurtjie begin flikker en die sterre begin flonker, kom ek dankbaar agter ons is in die groot saak ad idem. Die Sondagmiddag voor ons wegry Johannesburg-lughawe toe, skryf TvD dit swart op wit: “Geen twyfel dat ons gaan koop nie.”
Toe voeg ons die daad by die word. In Maart 1998 het Ukuthula amptelik Tarlehoet geword.
So het ons hartsplek 20 jaar gelede in ons lewe gekom. Hoeveel vrede van binne het dit nie vir ons beteken nie!
Comments