top of page
Uitmelkbos

VRAAGTEKENS OOR BOEK

Die polemiek oor die Melletboek “The Lie of 1652” maak dit relevant om weer die spoor te vat van die boek oor Bird Island wat in die jongste verlede ná hewige kritiek en verskeie ondersoeke as ‘n bose duimsuiery ontmasker is.

Albei omstrede boeke is deur Tafelberg goedsmoeds as sogenaamde “non-fiksie” gepubliseer.

Die beswaddering van twee reeds oorlede en een nog lewende oud-minister in die PW Botha-era in die Bird Island-boek het Tafelberg en Media24 nogal duur te staan gekom. Die gerespekteerde publikasiehuis moes sy trots in sy sak steek, hoed in die hand erken dat ‘n gruwelike onreg sonder enige bewyse teenoor onskuldiges gepleeg is, nederig apologie vra, die boek onttrek en skadevergoeding van ‘n koele paar miljoen opdok.

Boonop leef die vergryp voort as ‘n veelvoudige, voortdurende klad op sy naam. Met elke klik op elke berig rakende die sage op Netwerk24 word Barend du Plessis opnuut verskoning aangebied vir die lasterlike stellings wat oor hom gepubliseer is, en die Malan- en Wiley-families vir hul emosionele skade. Hoeveel kniebuigings is dit per dag? Moet nogal heelwat wees.

Tafelberg se verdriet eindig nie hier nie. Van die primêre verskoning by elke berig lei ‘n skakel die leser na die drie verklarings wat kort ná mekaar deur die maatskappy uitgereik is om hom uit die penarie te probeer wikkel: op 3 Maart, 17 April en 28 April. Elke keer krabbel hy ‘n entjie verder terug.

Op 28 April betuig Ishmet Davidson, besturende direkteur van Media24, oplaas persoonlik sy “opregte en onvoor-waardelike apologie” aan die betrokke families, erken hy dat die vuige dade wat aan hulle toegedig is, “ongegrond” is en bied hy vergoeding van R3 miljoen aan ‒ ‘n bedrag wat Barend du Plessis as ontoereikend verwerp het in die lig van al sy regs- en ander koste. Agter die skerms is daarna verder onderhandel.

In die geval van “Lie of 1652” bestaan natuurlik nie sprake van nog lewende en relatief onlangs gestorwe mense wat beswadder word nie. Die generasie voor 1652 oor wie dit handel, het eeue gelede geleef. In die opsig is dit ‘n “veilige boek”.

Maar vir die geloofwaardigheid van Tafelberg kan “The Lie of 1652” nog ‘n knou wees soos die getuienis opstapel dat die outeur ook maar sterk op sy duim en sy verbeelding staatgemaak het ter stawing van die herskrewe  geskiedenis oor die ou Kaap wat hy aanbied. En geloofwaardigheid is vir ‘n uitgewer nogal ‘n kritieke bate.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page