Hoe ouer ons word, des te swaarder weeg ons, want des te meer inligting word in ons koppe rondgekarwei. Kan nie nie onthou aan wie daardie kwinkslag toegedig word nie.
‘n Element van waarheid steek bepaald in die opmerking oor die volume inligting in ons koppe.
Hierdie bejaarde (koerante noem mos almal oor 70 bejaardes) was enkele dae gelede in hierdie spasie borrelend oor sy heupvervanging en die Amistegniek waarmee dit uitgevoer is. Binne drie tot vyf dae is ‘n mens uit die hospitaal en binne drie weke op jou eie bene, asook terug agter die stuur van jou motor.
Die kontakbesonderhede van die ortopeed is van die waardevolle inligting wat ek in my kop karwei en graag wil deel. Vra net mense …
So is in die kop van elke mens met ‘n bietjie lewenservaring inligting wat vir ander van onskatbare waarde kan wees. As jy maar net altyd weet waar om vir advies aan te klop.
Ons het pas ‘n lugversorger in ons woonkamer laat aanbring – wil nie meer in die westeson sit en braai as dit somermaande dooierus op ons korrel vat oor die Atlantiese Oseaan heen nie. Sal graag daardie firma en sy uitstekende diens wyer onder die aandag wou bring.
In hierdie kop is ook kennis oor ‘n betroubare Melkbosse bouer en ‘n hardewarewinkel met ‘n netwerk kontrakteurs se name op sy boeke waarop ‘n mens kan staatmaak.
Ek weet waar jy vir die lekkerste (en ruimste porsies) seekos in die Kaap kan gaan aansit.
Ek kan jou na ‘n apteker aanbeveel wat graag die ekstra myl vir jou sal loop.
Ek het die naam van ‘n voortreflike spreker wat jou ‘n halfuur kan laat skaterlag met gesofistikeerde humor (nie hvd nie!).
Ek kan ‘n boek aanbeveel wat ‘n bate sal wees vir elke Kerskous (ook nie ‘n hvd-skryfsel nie!).
Kom ek by Sabiepark, is daar net een bosveld-slaghuis vir my. Kampioenwors en tjops wat nie net kosmetiese kwaliteite het nie is gewaarborg – ook uithaler-sosaties, -biltong, -skilpadjies en ander -vleiskos-lekkernye.
Dis nie al nie. Wonder of ek nie met ‘n webwerf moet begin nie: Vra is vry. Of: Helpmekaar!
(Sal nog rapporteer oor die uiteinde van die toutrekkery met Ster-Kinekor oor die Engelse sebras.)
Комментарии