Vandag is die eerste dag van die res van Volksblad se lewe. ‘n Tikkie uitgelatenheid is seker veroorloof dat die geliefde dagblad nie vir die Afrikaanse leefwêreld verlore is nie. Gaudeamus igitur.
Tyd vir ‘n nugtere bestekopname oor die krisis van die afgelope tien dae behoort egter ook ingeruim te word. Die brandstapel het immers ongemaklik naby gekom. Niemand vir wie Volksblad iets beteken, wil ooit ‘n herhaling beleef nie.
In die konteks van so ‘n bestekopname is twee kernfaktore konstant. Die dinamiek van die gedrukte koerante het nie oornag verander nie. Die drywers van die radikale plan het ook nie oornag verdwyn nie. Wanneer hulle opnuut by Media24 die pionne begin rondskuif op soek na formules om hul boeke beter te laat lyk, moet ons nie verwag dat hulle dit dadelik met nuutgebore insigte en verfrissende ander gesindhede gaan doen nie.
Om nou rustig in ons onderskeie gemaksones agteroor te gaan sit en mekaar op die skouer te klop omdat die gevaar vir Volksblad afgeweer is, gaan niemand dus ver bring nie. Aan verskeie fronte wag uitdagings en werk.
Volksblad self het al ver gebou aan die model van ‘n geslaagde streekblad wat die karakter en behoeftes van sy spesiale nismark deeglik verreken. Ongetwyfeld sal hy hom verder daarop wil toespits om selfs nog nader aan sy lesersgemeenskappe te leef.
Mag ‘n mens egter ook hoop dat die skrik van amperse verlies ‘n nuwe stroom energie by lesers en adverteerders sal ontketen om hul koerant se hande te sterk in sy strewe om in sy lesersgebied die beste diens te lewer? Die lang, gelukkige en onbekommerde voortbestaan van hul koerant is immers primêr in die twee belangegroepe se hande.
As hierdie mense en instansies so sterk oor hul koerant voel, soos uit briewekolomme, verklarings en op sosiale media blyk, was die tyd nooit ryper nie dat hul liefde en lojaliteit nou van die simboliese na die prakyk beweeg. Kortom, hulle sal op groot skaal moet begin inteken en adverteer Slegs so sal hulle hul koerant op die langeduur kan red en verhinder dat hulle, tot die enorme verarming van die ganse gemeenskap, van ‘n kosbare, onmisbare vennoot beroof word.
AfriForum is een instansie wat in die Volksblad-sage gewys dat sy hart reg klop vir koerante deur sy veldtog om openbare steun te werf vir die voortbestaan van die koerant in sy huidige formaat. Hopelik is hy oorgehaal om daardie veldtog te omskep tot ‘n nuwe veldtog om op elke terrein sterker vitaliteit vir die koerant te ontgin. Ander belangegroepe sou daarby kon inval sodat dit ‘n magtige aksie word waarin kultuur, kerk, sakelui en andere hande vat.
Die kollig van kwesbaarheid was die laaste paar dae fel op Volksblad. Nie net by hierdie oudste Afrikaanse koerant in die land met sy trotse geskiedenis van 110 jaar nie, maar by elke ander titel is kwesbaarhede in mindere of meerdere mate teenwoordig – by van die ander selfs meer so as by Volksblad.
Media24 sal dit seker ten enemale ontken, maar by vele bestaan ongelukkig die persepsie dat die snoeiskêr die wapen is waarna sekere kern-rolpelers telkens byna refleksief gryp om die kwesbaarhede te verminder. Hoe meer jy snipper, des te meer bind jy egter koerante se hande agter hul rûe vas vir die taai stryd wat hulle moet voer. Des te kwesbaarder word hulle in die proses.
Die pad van verdere inkortings lyk egter vir hierdie waarnemer werklik nie na die pad om te loop om die geweldige eise te probeer ontmoet nie. Minder skadelike alternatiewe sal eenvoudig steeds met kreatiwiteit en ywer gesoek moet word.
Vir geen oomblik dink ek dat die huidige generasie besluitnemers ‘n pad sonder duwweltjies bewandel nie. Hopelik kry hulle egter so met stampe en stote tog maar die regte insigte en formules. ‘n Persoonlik versugting, ten slotte, is net dat ons asseblief tog gespaar bly dat die bloudruk vir die sluiting van ‘n trotse dagblad weer uitgebroei word by ‘n spruit van die idealistiese Nasionale Pers wat ek 36 jaar lank geken, gedien en liefgehad het. Ek kan in my verbeelding die voorgeslagte gepynig hoor uitroep.
Comments