Formeel, voor Volkies (plus drie “jong” onnies uit ons era).
As ek die Volkiematrieks van 60 jaar gelede moes evalueer vir ‘n rapport, sou ek oor die simbool vir beweeglikheid (noem dit ons “ars mobilitas”) twyfel. Party is verrassend hups. Ander kamoefleer dit doelgerig, maar loop bra moeisaam.
Gelukkig vir laasgenoemde was ons 60-fees op Saterdag 11 Maart 2017 by ons alma mater op Potchefstroom oorwegend op plat aarde. Met te veel trappe klim, sou dit kon lol. Kollektiewe prestasie? Tog wel ‘n soliede slaagsyfer.
Die prestasiekurwe beur opwaarts wanneer dit by hartsake kom. Van al die soete herinneringe was dit veral daardie met ‘n romantiese inslag wat selfs die verlepste oë vrolik laat vonkel het (noem dit die “ars romantica”). In die algemeen word ‘n “cum laude” hier toegeken.
In een geval is ‘n “summa cum laude” aangewese. Johan (Blommetjie) Viljoen het vir Wena (Louw) de Kock met wie hy in standerds sewe, agt en nege gekys was, ‘n pakkie kaartjies en briefies saamgebring waarin sy in die dae van hul jonkheid haar hart uitgestort het. Johan se jong vrou, Erika, is gelukkig ‘n geduldige eggenote met ‘n goeie humorsin.
Informeel, voor Jack Pauw.
Piet en Hettie (du Toit) Otto het ‘n matriekliefde verteenwoordig wat tot ‘n huwelik geblom het – trouens tot sommer twee huwelike! Die twee was geskei. Toe mis hulle mekaar te veel en trou weer. ‘n Tweede skoolkys wat ‘n huwelik geword het, was diê van Koos en Ina (van der Westhuizen) van Niekerk. Hul name pryk op die muur van herinnering wat helaas al op 25 (uit 81) staan. Dit moet waarskynlik meer name bevat. ‘n Klomp matriekmaats is onopspoorbaar. Twee flinke vryersklonge van weleer, Anton Lombard en die uwe, het voor flitsende kameras hul gades, Leonie en Tokkie, terstond omhels agter ‘n pilaar by Oom Frans de Klerk se biologielaboratorium, nou die personeelkamer. Destyds moes ons Blommetjie en Wol Steyn betaal om foto’s van ons soenery te neem. Ses dekades later het dit ons niks gekos nie.
En, boeta, toe die klomp die skoolsaal instap, moes jy die feesgangers soos bye sien afpyl op die hoekies onder die galery waar amoreuses in 1957 fliekaande handjies vasgehou het en so. Gaudeamus igitur ….
Hoekom al die Latyn hierbo: die “ars mobilitas” (kuns van beweeglikheid), “ars romantica” (kuns van die romantiek), “cum laude” (met lof) en “summa cum laude” (met die hoogste lof)? Om ‘n uitstekende rede. Die skrywer hiervan is naamlik een van ‘n vyftal wat van 1954 saam in die Latynklas gesit het. Soos by vorige reűnies was die vyf weer voltallig teenwoordig. Die ander vier is Willem Hartzenberg (duxleerling), Ferdinand Preller, Koot Bosman en Giel de Swardt.
Sestien klasmaats het opgedaag (party was te broos om te kom – of te kort getroud met ‘n nuwe lewensmaat, soos Santjie Conradie!) Dat die Latynklas vir amper 33.3 % van die opkoms gesorg het, verdien dus gewis ‘n lourierkransie en ‘n “Laureatus”-balkie om te dra onder die lapelknopie wat ons elkeen ontvang het: 100% Volbloed-Volkie. Dit verdien ook vermelding in hierdie blog.
Ander statistieke: dertien van die 16 teenwoordiges was seuns (amper ‘n rugbyspan), twee van die drie meisies weduwees, Wena en Bettie (Kilian) Fourie), een ‘n oupagrootjie, David (Dok) Malan en drie Oud-Wilgenhoffers uit Matieland, die here Hartzenberg, Preller en Van Aardt du Preez. Almal het die wonderlikste kleinkinders – natuurlik!
Die ou bande is vinnig heg gesmee. ‘n Toer deur die skool en koshuise het plek-plek sleg vasgeval. Die arme gidse moes meeding met die lus vir gesels. Tot hul eer was hulle tot die einde prysenswaardig lankmoedig – so ook die spyseniers wat die (heerlike) kos moes warm hou.
Wat almal verheug het, is hoe goed “ons skool” opgepas is. Nuwighede val op soos ‘n gedenktuin vir ontslape onderwysers, ‘n ouditorium waar Oom Stompie Steyn se wetenskaplaboratorium was, en heinings waar voorheen nie heinings was nie; een tot om die onderste slaapkamervensters by die meisieskoshuis Ons Hoop waar by geleentheid nagtelike drukkies gaan uitdeel is.
Maar selfs na 60 jaar (60 jaar!) voel jy dadelik weer tuis in die vertroude omgewing. Jy beleef ‘n skielike terugkeer van bruisende energie. Die lus pak jou amper om uitgelate saam op te draf op die netjiese sportvelde waar juis ‘n groot skoletoernooi aan die gang was.
Middagete was in Jack Pauw se eetsaal. Die vertrek lyk deftiger as die een waar ek en mnr. Jack Slabbert mekaar sleg misverstaan het. Kon hom nie oortuig nie van my standpunt dat ‘n krawat mos ewe goed is as ‘n das (wat aandetes verpligtend was).
Wat baie spesiaal was, is om te kon aansit op dieselfde plek waar ek in 1957 tafelhoof was – en ‘n gewilde een nogal omdat ek my porsie botter om die beurt met die ander tafelgenote gedeel het. Het toe al my brood droog verkies. Ja, botter was destyds ‘n kosbaarheid en die spyskaart heelwat minder aptytlik as vir hierdie spesiale ete.
Jy roep die bakke stampmielies en hopies geel pampoen in herinnering terwyl die kelners tussen die opgetofte tafels beweeg met die wittetjies en die rooi. Jy onthou ook die konstante aanbod van “mystery balls” (ons naam vir frikadelle uit die Jack Pauw-kombuis).
Oor wat alles uit daardie kombuis opgedis is, het ons een aand oproerig geraak en op die B-veld gestaak. ‘n Ander keer was daar konsternasie oor ‘n minder verhewe tafelgebed van ‘n onnutsige Jack Pauwer: “Here, vergewe die hande wat die kos voorberei het.” Toe Koot so mooi vir ons bid, kon ek ‘n glimlag oor oor daardie koswessies nie verhelp nie.
Regtig buitengewoon deftig is die nuwe koshuisbadkamers. In ons tyd was dit Spartaans. Nou is dit net teëls, glas en spieëls waar jy kyk. Als skitterblink. Veral die herboude Blok A (nou Blok C) lyk ná twee jaar gelede se brand plek-plek soos ‘n hotel. Die slaapkamertjies het gedoriewaar deure (pleks van gordyntjies wat enige oomblik oopgepluk kon word), en die matrasse is drie keer so dik soos ons klapperhaar-modelle van weleer.
Ek gaan soek die kamer wat ek en Wiekie Moolman in matriek gedeel het, en raak weemoedig. Ons vriendskap kon selfs ons verliefdheid op een meisie verduur. Nou is my ou maat een van die afwesiges weens ouderdomsverwante gesondheidsredes.
Die Sondag ry ek verby die statige NG Moederkerk naby die stasie, waar ek in my matriekjaar ook die “Boerematriek” afgelê het (ek was toe 16). Ons leraar was ds. Bey Naude, later so ‘n bekende nasionale figuur. Ek ry verby ‘n “rank” van Girls High-meisies op pad na die Engelse kerk, en onthou toe die Volkiemeisies netso in uniforme gelid op pad kerk toe, ry op ry in hul wit rokkies en met wit hoede op hul koppe.
‘n Verlangende hartseer-gevoel wou-wou weer my hart binnekruip. Maar oorheeresend was die gevoel van dankbaarheid. Oor die voorreg om juis in daardie tyd ‘n “volbloed-Volkie” te kon wees, met daardie maats, daardie onderwysers … ja, selfs daardie Jack Pauw-kos.
Die woorde van die skoollied het ek op pad na Johannesburg saggies bly prewel: “En hier het ons ‘n skool gebou, die Volkskool by die Mooirivier. Al swerf ons ook die lewe in, ‘n brokkie van ons hart bly hier!”
Comentarios