Kammaland, deur Annelie Botes. Resensie: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke) ’n Stil bek is ’n heel bek. Voordat die Slangevanger van Grabouw my weer kapittel, laat ek my waardering vir hierdie resensie uitspreek. Juliana Coetzer is ’n psigoterapeut, en dis hoekom ek die gevoel het sy dat eintlik ’n vraagteken by haar laaste sin wou geplaas het.
Nadraai, deur Jaco Kirsten. Resensent: Jean Meiring. (Rapport Boeke) Nadraai, deur Jaco Kirsten. Resensent: Charles Smith (Boeke24) Ek het het gewonder hoekom Jean Meiring so stil geword het. Maar hier is hy, en ek’s bly. Op die gevaar af dat ek soos Jaco Kirsten sal klink: Hierdie is ’n vlymskerp resensie. Meiring se plasing van Kirsten as skrywer, die hele aanloop van die resensie, en die skarnierpunt waar hy sy kritiese reaksie begin uitlê is gefokus, en wanneer hy dan die swakhede uitlê, kan daar min twyfel wees oor die basis en geldigheid van sy negatiewe reaksie. Dít is hoe resensies geskryf moet word. Charles Smith is meer gewillig om Kirsten die voordeel van die twyfel te gee, veral oor die dialoog wat hy gebruik, maar hy kan ook nie wegskram van die feit dat die roman “ietwat van ’n teleurstelling” is nie.
Kyk na my: herinneringe aan ’n kindertyd, deur Nataniël. Resensent: Johanna van Eeden (Boeke24) Dit help nie om Nathaniël te probeer nadoen wanneer jy oor hom skryf nie. Daarom skryf Johanna van Eeden haar resensie op ’n veilige afstand, en, wanneer dit nodig is, haal sy hom aan om die grein van sy boek te probeer vasvang. Hierdie benadering werk uitstekend, veral omdat die een aanhaling wat sy gebruik so skitterend is: “Oor sy eerste skooldag (bl. 33) skryf hy: ‘Ek hap my broodjie, ek hou van eet, maar hier proe ek niks.’ Wanneer hy later die dag met ’n ‘ster op my voorkop en ’n prent in die hand’ by die huis kom, sê sy ma die prentjie is mooi, maar sy weet nie wat dit is nie. ‘Dis ’n skip, sê ek. Ek sien net blou, sê my ma. Hy het gesink, sê ek.’”
Comments