top of page
Uitmelkbos

VLUGVOETIGE FANIE


Gryses eet saam op Melkbos: (bo) ds. Ockie Raubenheimer, HvD, Fanie van der Merwe, ds. Jan Venter en Ronnie de Bruin,. (Onder): Anita de Bruin, Maria-Anne van der Merwe, Tokkie en Marthie Venter.

Ses, sewe jaar gelede het ek oor Fanie van der Merwe ‘n versie neergepen wat ek nou weer uitgedolwe het vir ‘n “gevleuelde woordjie” by sy en Maria-Anne se verhuising van Melkbos na Altena in dieStrand:  

Hy kan nie meer ‘n gaping slaan nie,

Ons ken hom tog as vlugvoet-Fanie;

Maak nie saak op watter baan nie –

Of Fanie op ‘n vastrap uitkap,

Of by die net ‘n kishou slaan nie!

 As sentermaat van Mannetjies Roux by Paarl se Boishaai, die Lugmag-Gimnasium en vir Noord-Transvaal onder 19 het Fanie inderdaad op die rugbyveld gapings geslaan. Vele van daardie tyd glo hy was die vlugvoetigste van die twee. 

 Sinds  is ook die tennisbaan en die dansbaan vir Fanie van die baan.  Maar vlugvoetige Fanie kan nog gapings vat.

 By die magte en owerhede had hy altyd oog vir ‘n binnegaping om die beste vir Melkbos en sy mense te beding. Oor jare het hy gesorg dat Melkbos nie vergeet word as lakens uitgedeel word nie. Nie sonder rede nie, was hy bekend as nie-amptelike “burgemeester, ” en op sy kerfstok is o.m. ‘n netjiese woonbuurt vir vorige bosslapers, asook ‘n netjiese strandfront wat ligjare verwyder is van wat dit enkele jare gelede nog was. 

 Oor Fanie bestaan die gesegde (sommige beweer hyself is die oorsprong!) dat jy hom net ‘n halfuur moet gee, dan “fieks” hy enige probleem.  Uit eie ervaring ken ek sy voetwerk as probleem-“fiekser” – jy kan nie ‘n beter “faktotum” aanstel as jy met lang vakansies jou huis en haard agter slot en grendel agterlaat nie.  Hy los ook ingewikkelde probleme op, soos met testamente. Hy sal berge versit om vriende te help. In geldelike verknorsings huiwer hy nie om sy hand in sy eie sak te steek nie.     

 Fanie was Karooboer wat staatsamptenaar geword het. By die Landboukredietraad was hy ‘in die 80s ‘n sleutelspeler.  Van die taai tameletjies waarmee hy opgesaal was, was onekonomiese boerderye.  Boere was soms teë op sy padlangse advies, maar hulle moes gou leer: As Fanie sy tande in ‘n ding geslaan het, gee hy nie bes nie.

 By hoevele kerkraadsvergaderings het ek nie sy boerewysheid in aksie gesien nie? Sit eers en luister, sny dan na die hart van die saak met diagnoses wat nie versigtig-versigtig met fluweelhandskoene aangebied word  nie.   

 As storieverteller is hy beroemd/berug. Gee hom ‘n gaping en hy “sny” vir jou ‘n storie, dikwels uit sy eie jeug onder ‘n streng pa wat nie nonsies of ‘n “attitude” verdra het nie. Van sy stories leer ‘n mens mettertyd ken asof dit jou eie is, maar toegegee: dis altyd relevant.

 Fanie is Mnr. Positief; hy sien altyd die lig in die tonnel.  Baie van sy positiwiteit en sy klem op gesonde verhoudings put hy uit die leerskool waardeur hy is.

 Ek het altyd gewonder oor die aristokratiese Maria-Anne – hoe het Fanie ander vryers se hand by hierdie mooi, talentvolle, spitsvondige nooi Louw van Niewoudtville se kontrei in die hand geslaan?  Totdat ek agtergekom het hoe hy sy sjarme by die meisies in snelrat kan sit.  Fanie is gewoonlik  eerste by ‘n verjaardag of ‘n siekbed met ‘n bossie blomme uit sy tuin. 

 In vele Melkboshuise staan reuse-amarillas wat  Fanie gekweek het.  Deesdae is ‘n “double delicious”-rosie (nog vars met moredou) sy handelsmerk.  Die meisies dink: Fanie is tog te oulik!  

 Fanie spits sy sjarme nie net op die meisies na aan hom toe nie – ook op winkelmeisies, kelnerinne en wat nog.  Knoop altyd ‘n geselsie aan.  In alle billikheid:  hy doen dit ook met (manlike) petroljoggies. Die ou vriend boer met welwillendheid.   

 Fanie het ook ‘n oog vir gapings om dinge soms vir homself ietwat makliker te maak.  Hy sal byvoorbeeld ‘n braai vir ‘n tehuis reël. Nie lank nie, of hy kom flikflooi by Melkbos se Mnr. Braai, Sakkie Bruwer, vir raad oor hoeveel wors, hoeveel broodjies, hoeveel dit en hoeveel dat. As Sakkie hom kom kry, is hy die braaier. Fanie loop rond en gesels!  

 Melkbos gaan die Van der Merwes se warme vriendskap en omgeeharte mis. Ons gaan sy optimisme mis as die rand al hoe verder terugsak en die toi-toiers opstandiger raak.  Ons gaan sy gebede uit die hart uit mis as hy die Here so mooi vertel wat hy alles gesien en gedink het toe hy die oggend oor die see uitkyk. Ons gaan sy helpende hand mis aan almal wat in nood is, tot vir ‘n weggooi-hondjie of ‘n ou wat naby die drankwinkel rondhang met ‘n hand uitgestrek vir ‘n kado’tjie.  

 Tot siens, “maatjies”.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page