Terwyl koerante vandag moet kopkrap hoe om na hul sluimerslaap van die Kersnaweek hul agterstand met die dekking van Desmond Tutu se dood te probeer inhaal, dink ek onwillekeurig aan die dae van spesiale uitgawes om groot nuus so gou moontlik by die lesers te besorg.
Een voorbeeld: Saterdagmiddag 9 April 1960 toe dr. Hendrik Verwoerd op die Johannesburgse Paasskou deur David Pratt in die gesig geskiet is. Die SAUK het ‘n flitsberig uitgesaai. Koerantmense van Die Volksblad in Bloemfontein – redaksie, fabriek, bemarking, almal – het dit gehoor en hulle instinktief kantoor toe gehaas. Een het van Dewetsdorp gekom; party was in die klere waarmee hulle in die tuin gewerk het.
Die twee gewone Saterdag-uitgawes was lank voor die skietery op straat. Hulle is toe gevolg met twee spesiale uitgawes van vier bladsy elk. Die verskyning van die koerante met die vuurwarm nuus is met luidsprekers deur Bloemfontein se strate aangekondig.In ‘n ommesientjie het ‘n geskokte skare by Die Volksblad in Voortrekkerstraat saamgedrom.
Angstige koerantlesers het die uitgawes opgeraap.
Dit is sulke geleenthede wat adranalien deur die are met drukkersink laat pomp het. Moeg maar hoogs tevrede dat hulle hul werk goed gedoen het, het die Volksbladders later die aand by die Fontein-hotel op uitnodiging van die redakteur-bestuurder Hugo Dreyer ‘n drankie gaan drink.
Weer eens was het koerant sy plig gedoen om sy gemeenskap op die hoogte te hou – ook in sulke uitdagende omstandighede. Dit was ander tye. Hoe dankbaar is ek nie dat sulke opwinding kon beleef het.
留言