’n Vakansie kan ook nie vir ewig duur nie. Terug in die Kaap, en dis nie meer die plek waaroor Sonja Herholdt so sielsverheffend gesing het nie. Al wat nog in my tuin leef, is die sementkabouters.
Boonop is die resensie wat my vandeesweek die meeste plesier gegee het, een oor ’n boek wat uit die Engels vertaal is. Ja, ek weet Crito Merk I het die wet neergelê en gesê dat net resensies van boeke wat oorspronklik in Afrikaans gepubliseer is hier aandag kry. Maar ek is ’n kind van die Zuma-era. Wette schmette.
Jean Meiring skryf vir Rapport oor Hartbreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting.Die skrywer van die boek is James-Brent Styan. Die vertaler bly anoniem. Miskien is sy identiteit bekend. Moontlik verswyf Meiring dit net uit rankune.
Wat wel duidelik is, is dat hier ’n lekker storie aan die gang is. Meiring is geïnspireer deur die boek. Luister na hierdie paragraaf:
“In sy nabyheid kry vroue reëlmatig hartkloppings, wat die goeie dokter dikwels noop om agter ’n diggetrekte deur sy doepa aan hulle toe te dien. As Barnard by die Italiaanse rolprentdiva Gina Lollobrigida ’n nagwaak hou, is dit oraloor rugbaar – ook in Suid-Afrika, waar sy vrou, Louwtjie, en hul kinders op hom wag.”
Selfs wanneer Meiring in ’n mineurtoon die kwinte begin blootlê, is daar leesplesier: “Die oudjoernalis James-Brent Styan had dus ’n ryke oorvloed edelmetale tot sy beskikking waaruit hy in sy smidswinkel iets werklik glimmends kon smee. Maar ’n biografie oor iemand soos Barnard sal altyd besonder uitdagend wees, veral in ’n tyd waarin die biografiegenre wegbeweeg van ophemeling tot iets veel meer ewewigtigs. Styan teken wel ruim kritiese aspekte aan. Tog, al beskik die eindproduk – as ’n mens jou oë op skrefies trek – oor deug, is dit in die geheel en op die keper beskou ’n beduidende teleurstelling.”
Daarna spel hy die boek se foute duidelik uit. Onvermydelik stuur hy af op ’n baie sterk veroordeling: “Dis klinkklaar dat Hartebreker holderstebolder die rakke moes haal. ’n Streng redakteur en noukeurige proefleser sou die ergste bloeding kon gekeer het.”
Jean Meiring het al resensies van hoë gehalte geskryf, meestal in positiewe trant, en oor boeke wat tot hom gespreek het. Hartbreker het op ’n ander manier tot hom gespreek, dermate dat hy van sy beste skryfwerk nog met hierdie bespreking gelewer het. Veral daardie slotsin: “Ons eie gevalle hartensgod verdien beter.”
Irna van Zyl spring in haar resensie van Johanna (’n roman deur Cas Wepener) weg met ’n bekentenis: “Ek wou nie van Johanna hou nie. Hoe kan ’n man – ’n teoloog, boonop jonk – hom in ’n heelwat ouer vrou se gevoelswêreld tuismaak – ’n gay vrou s’n daarby?” Maar sy veg denkend en dapper teen dié vooroordeel, want sy is verstandig. As mens ’n geslagskeidslyn wil trek oor die geldigheid van ’n skrywer om hom/haar in die lewe van ’n ander geslag in te verbeel, dan soek jy groot moeilikheid. Die wêreldletterkunde sou dan grotendeels ongeldig wees …
Van Zyl kom haar voordeel te bowe, of liewer, die boek dwing haar om daarvan af te sien. Goeie skryfwerk, substansie, resonansie met ander romans: “Ek moes uiteindelik elke vooroordeel begrawe. Johanna het my diep ontroer en by tye selfs in trane gehad. ’n Man mag maar in sy vrouekarakters se kop klim.”
Irene van Staden het haar nie dieselfde vraag as Irna van Zyl afgevra toe sy oor Hans du Plessis se Drie vroue en ’n meisie vir Litnet geskryf het nie.
Ek is oorgehaal deur Van Staden se betoog, maar op nommer 99 maak ek my groottoon teen ’n klip seer. Sy sê hierdie roman is “’n hartseer en swaar uitbeelding van ’n harde en genadelose wêreld.”
Hê? Swaar? Soos in “moeilik” of soos in “swaartillend”. Of het die resensent traag aan die lees gebly?
Sal ons ooit die antwoorde op al die vrae kry?
’n Resensie wat ’n ander vraag by my laat opdoem het, in die verbygaan, is Deborah Steinmair s’n oor Sê my, is julle twee susters? Haar besluit, dat dit “eenvoudig ’n lieflike klein boek” is, spruit een van daardie bondige, netjies geformuleerde besprekings waarvoor Steinmair bekend is. Sy skryf met geneëntheid oor dié verslag van twee voormalige Doppervrouens se ervarings in Suid-Afrika, en het my uiteindelik te staan gebring voor ’n vraag: Wat het geword van al die sendelinge in Suid-Afrika?
Mens kan ’n gedig daaroor skryf, nè?
Comments