Na aanleiding van die vorige kiekies, het Isa Konrad daar uit Switserland gevra hoe oud die rotse is? Hierdie foto toon die lae die beste, so kliek asseblief op die foto om dit volgrootte te sien.
Onder die foto probeer ek verduidelik.
Die rooi laag onder is moddersteen en is 200 tot 260 miljoen jaar oud. Die Vrystaat was toe ’n vloedvlakte, soortgelyk aan die Okavango vandag.
Die rooi gedeeltes is dus sediment wat oor miljoene jare neergelê is. Moddersteen is meer poreus as die lae daarbo.
Toe verander die klimaat en 40 miljoen later was die Vrystaat ’n woestyn.
Die geel laag is die sogenaamde Clarenssandsteen. Hierdie laag is 196 miljoen jaar oud. Die westewinde het voortdurend sand aangewaai en duine het gevorm, wat later versteen het.
’n Hele aantal dinosourusse het hier geleef in daardie tyd. Die mees algemene dinosourus in die streek was die Massospondylus, iets wat baie soos ’n hedendaagse sekretarisvoël gelyk en geloop het.
Toe kom die chaos. Vir 55 miljoen jaar was die Oos-Vrystaat geleë op aktiewe vulkane. Die vertikale swart vlekke en die harde bokant van die berge, is lawa. Die vulkane het uiteindelik uitgewoed en die harde kors, wat alles toe bedek het, kon stol. Die lawe is baie hard en verweer stadiger as die sagter lae daaronder.
Die foto hieronder het ek bo-op die Brandwag geneem. Daar was ’n loeiende wind toe ons daar was. Julle kan sien hoe onegalig daardie harde klip verinneweer. Let ook op hoe die ligene daarop groei.
Kliek op die foto om dit groot te maak, en kliek hier vir nog vakansiefoto’s.
* * *
Tegniese goed: Die boonste foto
Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens
1/30 f5 ISO200 (29mm)
Die onderste foto
Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens
1/500 f5 ISO100 (16mm)
Comments