Lana en Victor op die verhoog ‘n Buiging is vanpas na ‘n boet-en-sus-sangpaar van die Kaap (van wie ek, terloops, skandelik onbewus was) vir die gereelde Suid-Afrikaanse geurtjie by die aandkonserte in die MSC Opera se stylvolle Teatro Del’ Operateater. Die twee mooi mense is Lana English en Victor Siljeur.
Lana is ‘n ster van die musiekblyspel “Phantom of the Opera” in die rol van “Christine”. Die forse tenoor Victor het vinnig opgang gemaak nadat hy sy gereedskap as werktuigkundige weggepak en saam met sy suster die verhoog betree het.
Die twee sing gewilde araias uit operas, operette en blyspele: die mooi musiek van komponiste soos Puccini, Verdi en Andrew Lloyd Webber, en sangers soos Sarah Brightman, Josh Groban, Boccelli en Pavarotti. Hulle doen dit met sigbare lewensvreugde.
Vir Victor ‘n ekstra buiging: oor die AFRIKAANSE geurtjie waarvoor hy een aand verantwoordelik was. Hy het vertel hoe hy as “Kaapse klonkie” (sy woord, nie myne nie) Gé Korsten se sang bewonder het. Toe trek hy los met sy held se groot treffer, “Liefling”. Die gehoor – oorheersend Suid-Afrikaans – was gaande. Net vir sy “Nessun Dorma” was daar groter applous.
Ja, van die skip se amper 2 000 passasiers was nie minder nie as 820 Suid-Afrikaners (die meeste waarskynlik in murg en been Afrikaans). Die Duitsers was in die tweede plek met ‘n beskeie 364 en die Britte in die derde plek met 238. Maar soos so algemeen oral die geval is, het Afrikaans op die skip aan die agterspeen gedrink.
Vir die Duitse passasiers was ‘n tolk aan boord – ‘n mooi, welsprekende fraulein. Smiddae is ou treffer-rolprente, in Duits oorgeklank, in die Caruso Lounge aan handjiesvol Duitsers vertoon. Afrikaans is op die dekke, in die eetsaal en in die kuierplekke gehoor. Van die skip se kant af is – as ek my ‘n stukkie goed bedoelde kritiek mag veroorloof – egter te min erkenning gegee.
Nog ‘n stukkie Afrikaans uit ‘n onverwagte oord het darem gekom van ‘n Skot wat nou in Suid-Afrika woon, Danny Fisher. Hy is bekend as “the man with 100 voices” en is ‘n entoesiastiese nabootser van groot name in die sangwêreld. Sy nabootsing van Elvis Pressley was na my oordeel maar so-so. Toe sing hy David Kramer se Blokkies Joubert soos Elvis dit sou gedoen het. Lekkerder het ek op die hele vaart nie gelag nie.
Moet die MSC Opera tog krediet gee dat Afrikaanse koerante onder dié was wat daagliks digitaal gelewer is. Kon Die Burger lees – al het dit, in randwaarde, amper R40 per uitgawe gekos.
En by die gala-afskeid die laaste aand is op ‘n besonderse wyse gegroet. Terwyl Victor “Time to say goodbye” sing, het die span energieke dansers omgedraai met hul rûe na die gehoor. Op elke rug was ‘n letter vasgespeld: T-O-T-S-I-E-N-S.
Dit was ons eerste tot siens van die Opera ná ‘n gedenkwaardige vaart wat ek by enigiemand sou aanbeveel. Die tweede was toe ons in Venesië se hawe van die skip stap, omdraai en wuif. Die derde was ‘n verrassing. Terwyl ons skemeraand op die Piazza St. Marco ronddwaal, bemerk ek skielik die bekende wit skip agter die gondels verbyvaar oop see toe. Die MSC Opera was met ‘n nuwe vrag passasiers op pad na Istanboel.
Daardie laaste sien op die Canal Grande was dalk inderdaad die laaste sien. Die Opera is op pad na die skeepswerf in Genoa. Word middeldeur gesaag om ‘n nuwe deel met ekstra kajuite en sitkamers by te voeg vir gebruik in die Middellandse See. Kom, soos die koppe nou werk, nie weer Suid-Afrika toe nie. ‘n “Nuwe” Sinphonia – ook op daardie manier groter gemaak – is op pad terug na Suid-Afrikaanse water vir die 2015/2016 seisien. Ons kajuit is op hom bespreek vir ‘n vaart na Walvisbaai.
Tot siens vir eers, en dankie aan almal wat die vaart op my blogs en op Facebook so geduldig meegemaak het.
Comments