Braai vir oulaas.
Wederom, wederom -so groet ons vrolik by die tyd van kom; maar dan kom weer die tyd van gaan, blink in die oog ‘n hartseeertraan; ja, kom en gaan en kom en gaan, so rol ‘n mense se lewe aan …
Die Claassense is vanoggend om 06:OO hier weg na ‘n heuglike twee weke. Gisteraand is vir oulaas by Tarlehoet groot vuurgemaak vir ‘n goed gesinchroniseerde driestasie-braai: Jacob by die tjops. Thomas by die brood en Christopher by die wors.
Afskeid beteken ook tyd vir die “amptelike foto” by Tarlehoet se naambord, vars vernis deur die vlytige seuns. Om te dink toe hulle die eerste keer in Sabiepark gekom het (in doeke nog) het die naambord hulle verdwerg. Nou is Thomas langer as ouma!
By die vuur wou Marisa by elkeen weet: Wat was die aller-hoogtepunt en die een ding van die vakansie wat jy nooit weer wil beleef nie.
Die gesellig saamkuier om ‘n kampvuur het in die eerste kategorie sterk steun geniet – ook Brent se eerste blik op swartwitpense in die wildtuin, die besoek van ‘n leeu in Sabiepark en die herbesoek aan Napi, danksy die Presslys van Skukuza.
Wat nie so lekker was nie, was die groot skrik met die opwagting van ‘n Mosambioekse spoegkobta by die vuur ‘n paar aande tevore. Liewer nie weer nie!
Wat vir Oupa ‘n gedenkwaardigheid van die vakansie was, was om die seuns se groei in kundigheid, vernuf en selfvertroue waar te neem: hoe hulle die voortou neem met die vuurmakery (die hout vlieg nogal!), braaiery, ens. Elkeen het sy eie verantwoordelikhede. Jacob hanteer bv. die nagkamera. Daarop was party oggende niks. Twee keer is wel hiënas gekiek en ‘n paar keer dors bokkies wat nader staan watergat toe. Jacob adviseer Oupa ook oor tegnologie.
Ook lekker gewees om te sien hoe heg die bosbroederskap met Sabiepark se personeel voortleef. Patson Nommer Een (Christopher) en Patson Nommer Twee (die regte Patson) bly ‘n gedugte span. Christopher is slegs oortuig dat dit beter is om huis toe te gaan as om in Sabiepark agter te bly en vir almal takies te help verrig met die argument dat hy dan graad twee sal moet herhaal. Wat in die Amarok saam Kaap toe is, is lang stapstokke wat glad geskuur, kreatief uitgekerf en met toue versier is. Natuurlik ook die herinnering aan sowat die 20ste besoek van die13-jarige tweeling (volgens Thomas se sorgsame rekords) en die dosyn of wat van Christopher(8). Onthou om die krane in die Kaap toe te hou, julle!
Comments