Jy kry atlete en ATLETE. Ek was een van eersgenoemde. Kort loopbaan. Relatief onskouspelagtig. My swaer Fanie van Wyk was een van laasgenoemde. Victor Ludorum. SA kampioen.
Wel, ek het darem in matriek ‘n Wes-Transvaalfrokkie verwerf – W33 was ek. Op die foto’s bo pronk ek daarmee vir my kamermaat, Wiekie Moolman, se kamera agter die Jack Pauwkoshuis by Volkies op Potchefstroom.
Daaraan is ‘n storietjie verbonde waarvan ek pas, 55 jaar later, die laaste hoofstuk kon skryf. Daarmee het afsluiting as ‘t ware vir my gekom. Die katalisator was Sabiepark. Maar wag, ek loop die storie vooruit ….
Kom ons begin by Volkies se kleuresport in 1956. HvD is in matriek maar onder 16, omdat hy op 3 Januarie 16 was. Hy wen die 150 tree … en verrassend ook die gewigstoot in sy heel eerste poging met die ysterbal. Hy kom tweede in die 100 tree, 220 en 880. Die wenner in elke geval is Fido Barnard, volgende jaar se hoofseun.
Destydse gebruik was dat die eerste twee in elke nommer deurgaan na die interhoër teen o.m. Gimmies, Klerksdorp Hoër en so aan. Gewoonlik ook Ventersdorp, maar weens die polio-epidemie op ons buurdorp was die skool in 1957 afwesig.
Elke atleet mag net aan vier ( of vyf?) nommers deelneem. Fido se koker is te vol, en hy los die 880 vir my ern Charles Austin wat by Volkies derde gekom het. In die pylvak met die lint vlakvoor my hoor ek doef-doef-doef. Dis Charles, latere speurder, wat my inhaal en net-net klop. Ook in die gewigstoot kom ek tweede – afstand 39 voet 10,5 duim (foto). Die interbond op Krugersdorp wink dus in twee nommers. My hemp hou skaars die bultende bors binne.
Ventersdorp hou intussen sy skoolbyeenkoms. Ene Ten Cate wen die 880 vir seuns onder 16 in ‘n beter tyd as myne. Toe die span gefinaliseer word, is Ten Cate in vir die 880 en ek uit. My beste nommer – ek kon huil!
In die gewigstoot vertoon ek op Krugersdorp bra floutjies – wat nie onverwags is nie. Ek stoot net ná ‘n bul van ‘n seun met die vreemde van Essakov. Hy het later ‘n SA spiesgooikampioen geword. Kon, wat my betref, ook ‘n SA gewigstootkampioen geword het.
Oor hoe Ten Cate van Ventersdorp en my mede-Volkie-CharlesAustinin die 880 gevaar het, het ek geen benul nie. Elke keer as ek Charles se naam in die koerant sien by die een of ander groot saak wat hy ondersoek, het ek egter aan daardie 880 gedink.
Die Ten Cates was ‘n bekende familie op Ventersdorp, het ek geweet. Presies wie die Ten Cate was wat ten koste van my vir die 880 gekies is, het ek tot gister nie geweet nie. Toe lees ek op Facebook ‘n inskrywing van ene Elsabe ten Cate uit Sabiepark. Twee en twee maak vier. Ek soek daai ander Ten Cate, laat weet ek vir haar,kan jy dalk help?
Sy kon inderdaad. Hy was haar oom: Andries Petrus (Dries) ten Cate, jonger broer van haar pa, Sjoerd, wat twee jaar tevore, in 1956 in matriek was.
Elsabe-hulle vertrek huis toe net voor die Van Deventers se aankoms in Sabiepark. Ons Wes-Transvalers sou kon saamkuier. Ongelukkig sal ek Dries nooit kan daag vir ‘n beslissende 80 meter in Sabiepark se piekniekplek nie (880 op my jare, vergeet dit!). My Nemesis uit Ventersdorp is twee jaar gelede aan kanker oorlede.
Comentários