top of page
Izak de Vries

Tom Lanoye se Sprakeloos wen nóg ’n enorme prys


Tom Lanoye, die man wat deur die US Woordfees genooi is om die eerste boekpraatjie van hierdie jaar se fees te lewer, is pas nog ’n keer vereer vir Sprakeloos, die uitsonderlike roman waarvan die Afrikaanse vertaling pas by Protea Boekhuis verskyn het.

De Maatschappij der Nederlandse Letterkunde het gister bekendgemaak dat hulle die gesogte Henriette Roland Holst-prijs aan Lanoye se Sprakeloos toeken.

Die prysgeld beloop Euro2 500 en daar is ook ’n oorkonde aan verbonde.

Hierdie prys word al om die drie jaar aan ’n prosawerk toegeken. Poësie en Drama kom gedurende die ander jare aan die beurt.

Dit is nie die eerste groot lof wat Sprakeloos wen nie. De Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde nomineer slegs al om die vyf jaar ’n prosawerk, en Sprakeloos het hierdie eer te beurt geval in 2010.

Lanoye het ook al te vore nomisasies gewen vir ’n Gouden Uil, die Libris Literartuurprijs en in 2007 is sy hele oeuvre vereer met ’n Gouden Ganzenveer.

Iets meer oor Henriette Roland Holst

Henriette Roland Holst (1869 – 1952), bekend as Jet, was een van Nederland se voorste digters en literatuurkritici. Haar nooiensvan was Van der Schalk. Sy was ook ’n aktiewe sosialis wat aan haar die bynaam “Rode Jet” verskaf het. In hierdie rol het sy haar lewe lank vir werkers en jonger vroue in die bresse getree. Dit was klaarblyklik Herman Gorter wat haar aan die werk van Karl Marx bekendgestel het. Sy was getroud met die beeldhouer Richard Roland Holst en was ’n familielid van die ewe bekende digter Adriaan Roland Holst.

Iets meer oor die Tom en Sprakeloos

Book Southern Africa se verslaggewers was dáár toe Tom en Daniel Hugo gesels het. Hier is ’n puik berig en foto’s (nie van my nie, al staan my naam daar bo aan.)

As julle wil hoor hoe Tom klink as hy voorlees uit Sprakeloos, kliek hier.

En dan het BOOK SA ook ’n oulike berig, met ’n video, geplaas oor ’n gesprek tussen Tom en Antjie Krog. Luister gerus!

2 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


bottom of page