Tickey de Jager en Gerrit Brand in 2005
Gisteraand, op Wêreldwiskundedag en drie jaar na Tickey de Jager se dood, is die Tickey de Jager Mathematics Room amptelik geopen by Rondebosch Boys’ High.
Ek het Tickey goed geken. Eers het ek sy boeke begin uitgee, en daarna het hy my ma getrou. Maar toe ek gisteraand weer luister na die staaltjies, die toesprake en die akkolades, het ek besef dat hy soveel groter was as wat enigeen van ons sal weet – al was hy so klein.
Tickey is gebore in ’n huis sonder elektrisiteit en is die eerste drie jaar van sy lewe tuis onderrig.
Later jare het hy van die Strand af Stellenbosch toe gery op ’n dikwielfiets om te kan studeer – dit was nog sandpad in daardie dae.
In sy jeug het hy krieket gespeel vir die WP. Later jare sou hy tallose seuns help met húl krieket. Hy het ook atletiek en tafeltennis afgerig. Jonathan Shapiro, aka Zapiro, vertel graag staaltjies oor sy ure en ure saam met Tickey. (Jonathan was ’n baie goeie tafeltennisspeler.)
Dit was egter as rugbyafrigter waar Tickey bekendheid verwerf het. Ian McCallum was gisteraand ook daar. Hy was maar een van talle Springbokspelers wat onder Tickey se hulp geblom het.
Tickey was baie lief vir die letterkunde en hy had ’n geweldige kennis van Engelse poësie. Hy het ook Nederlands en Duits gelees.
Filosofie was ’n ander stokperdjie wat hy sonder skroom beoefen het. Hierdie foto hierbo is klassiek. Toe Tickey die dag vir Gerrit Brand (die filosoof hier op LitNet) ontmoet, loop hy hom sommer dadelik tromp. En daar sit Gerrit – Tickey práát.
Die uitgewersbedryf is ’n interessante plek. Soms moet jy maar luister, soos Gerrit hierbo, en soms stem jy nie saam met alles wat jou outeurs vir jou vertel nie – soos soms die geval was met Tickey. As mens word ons egter elke dag verryk deur ons interaksie met ons skrywers.
Het ek al genoem dat Tickey ’n uitstekende Wiskunde-onnie was? Dis hoekom ons gisteraand daar bymekaar was. Nee, eintlik oor veel meer. Dit was oor Tickey, wat nie in ’n boksie geplaas kon word nie.
Comments