Dis vakansie vir sommige en beslis vir skoolkinders. Maar net omdat hulle nie in die skool of kleuterskool is nie, beteken dit nie die kleinspan hoef niks te leer nie. Daar’s ‘n geleentheid in die Kaap om hulle in die tradisie van Oscar Wilde op te voed. Of dalk net deur middel van Hans Christian Andersen.
Die toneelstuk The Little Mermaid is op die oomblik in die Baxterteater aan die gang. Mariana Malan skryf ‘n baie goeie resensie hieroor in Die Burger.
Die lekkerte van die toneelstuk begin reeds as mens die teater binnestap. Die mense by die Baxter het moeite gedoen om die kleingoed onmiddellik in ‘n ander wêreld in te neem. ‘n Mens stap deur ‘n onderwatertoneel om die teater binne te gaan. Die skatkis se skatte en die blink liggies glinster tussen die visnette.
Laat ek my daarvan weerhou om te veel te wil analiseer. Ons almal weet mos wat water voorstel. Die ander domein. Die toetree van primordiale dieptes. Maar dit het regtig gebeur, daardie soort towerding. Ons almal het by die ingang van die teater Kaapstad verlaat en ‘n ander ruimte betree.
Die verhoog is slim beplan. Hoe maak mens nou om ‘n meermin met haar stert te laat rondbeweeg, sonder om haar heeltyd staties op die verhoog te laat sit? Mens bou ‘n see, dis wat Fred Abrahamse en Marcel Meyer se span gedoen het. Die branders is blou seile en daaronder is die akteurs se bene versteek. Wat die gehoor sien, is alles wat bo die oppervlak uitsteek. Visse en krappe en meerminne word op die oog af moeiteloos so uitgebeeld.
Die toneelstuk neem die verloop van die Walt Disney-weergawe van die verhaal en kies ook om die gelukkige Walt Disney-einde aan te wend, eerder as die Hans Christian Andersen-weergawe met sy komplekse einde.
Die foreshadowing vind van die begin af plaas: die meermin stel so intens belang in die wêreld bo die water, dat die gehoor kan voorspel sy gaan ondersoek instel na die lewe van die mensekinders. En, op sy skip, sug die prins omdat hy gedwonge gaan moet vrou vat – al wil hy nie. Die meermin en haar toekomstige prins is albei vasgevang in hul omstandighede. As daar net één aspek van hulle albei se lewens verander, kan hulle wel mekaar se ewige geluk verseker. As haar wens maar net bewaarheid word en sy ‘n mensekind met bene raak, en as die prins maar net sy ware liefde in haar vind, kan hulle albei gelukkig wees in hulle omstandighede.
Wat as … wat as …
En dan, vanselfsprekend, iemand om albei se planne en ewige geluk in die wiele te ry. Die opwindende seeheks en haar trawante.
Maar die seeheks se versugting na mag veroorsaak natuurlik haar eie ondergang, soos ons weet. En die geluk van die twee hoofkarakters seëvier uiteindelik.
Die teks en die liedjies van hierdie weergawe van The Little Mermaid is oorspronklik. ‘n Groot pluimpie vir die span dat hierdie produksie regtig wérk vir jong kinders. Dis nie Walt Disney-stroperig nie, maar dis nie vreesaanjaend nie. Die noodsaaklike gedeeltes van die verhaal word vertel, maar alles wat onnodig is, word uitgesny. Die lengte van die stuk is net reg. Dis ‘n uur lank en dis al.
‘n Vinnige meningspeiling onder sewe van die kinders wat hierdie toneelstuk bygewoon het, toon die gewildheid van die seeheks en haar palings (ja, die palings word spesifiek uitgesonder; vir my is hulle die ekwivalent van Knersus se tande-makkers in sy grot). Hierdie karakters is duidelik nie “goed” nie, soos die kinders vir my vertel. Maar die kinders vind hulle opwindend. Twee van die dogtertjies hou sonder twyfel die meeste van die meermin. Een van die mede-ma’s sonder die meermin se kostuum uit. Hier is moeite gedoen.
Uit volwasse oogpunt is die twee hoofkarakters nie die mees opwindende karakters nie. Daar is dalk nie heeltemal genoeg humor om ‘n volwassene te bekoor soos wat Walt Disney se uitstekende animasieflieks kan doen nie – dink maar aan nog ‘n onderseeverhaal, Finding Nemo, en met hoeveel genot ‘n grootmens dit saam met ‘n kind kan kyk. En wat is fout daarmee om Hans Christian Anders se “donkerder” (en oorspronklike) verhaal aan te pas vir die teater en dit eerder vir die kinders te voer, eerder as ‘n maklike gelukkige einde? (Maar laasgenoemde is onnodige kritiek. Net so goed om agterna vir jou kind die Hans Christian Andersen-storie te lees soos hy is en daaroor te gesels. Hierdie weergawe sal waarskynlik nie so goed werk op die verhoog nie.)
Maar dit ontneem glad nie hierdie produksie van sy belang of sy vreugde nie. Hierdie teaterstuk is iets gans anders as ‘n fliek. Dis lewendige teater en dis noodsaaklik. Kinders kry op ‘n wonderlike manier deur middel hiervan toegang tot die vreugde van teater. Hulle kan later leer van al die subtekste en self ontleed wat hulle op die verhoog gesien het. Vat hulle sommer nou al, dan raak die teater deel van hulle verwysingsraamwerk.
Duik in by die Baxter, meerminne en meermanne!
Jy het nog kans tot die 5de Januarie om jou kroos Baxter toe te neem om The Little Mermaid te gaan kyk. Sterk aanbeveel!
Comentários