top of page
Izak de Vries

The Elephant in the Room


Ek wil julle graag bekendstel aan een van die beste debute wat ek in ’n baie lang tyd gelees het.

Maya Fowler se roman The Elephant in the Room is ’n donker teks vol makabere humor.

Ek het die frase “There is an elephant in the room” vir die eerste keer gehoor toe ek ’n Amerikaanse projekbestuurder aangestel het om ’n groot stuk werk vir die Departement Onderwys af te handel. Wat die olifant was, sal ek liefs nie sê nie, maar ek was geïnteresseerd in die komvandaan van hierdie frase. (Ek het dit opgespoor, lees gerus self. Daar is onder ander ’n puik stuk van Bansky te sien op dié webwerf.)

In het korte beteken die frase daar iets is wat bespreek móét word, maar niemand wil dit aanraak nie. Die “olifant” word dus geïgnoreer en almal maak of dit nie daar is nie. Dit is présies waaroor Maya se boek gaan.

Lily Fields (wat ’n naam!) se ma het oor die tou getrap. Toe die olifantjie te groot word om te ignoreer, trou haar ma met die kêrel. Maar helaas. Nadat hy sy meisie, later vrou, drie keer kort na mekaar swanger gemaak het, word die knaap doodgery saam met sy nuutste squeeze.

Die ma is natuurlik ’n wrak en leun op háár ma, Lily se ouma. Die ouma is egter wreder as die stiefma in Sneeuwitjie en sy stuur sommer maklik haar kleinkinders bed toe sonder kos. Om die waarheid te sê: Die weerhouding van kos en van liefde is die twee goed wat die ouma verskriklik goed doen.

En daar begin die probleem. Lily, wat gereeld moet hoor dat sy te vet is, besluit om op ’n dieet te gaan. Die dieet slaan oor na ’n obsessie. Die obsessie word bulimie.

Lily vereensaam, sy kan eenvoudig nie die gebrek aan kos hanteer én ’n vriendekring volhou nie. Tog smag sy ewe veel na kos as na vriende.

Hierdie onvermoë om korrek om te gaan met kos, en met vriende, lei tot verskriklike situasies. Haar vriende verloor een vir een moed met haar. Lily, aan die ander kant, verloor haar maagdelikheid op ’n koue, onmenslike manier. Die seks is liefdeloos. Sy is ’n willose toeskouer en verloor meer as net ’n himen. ’n Tiener is veronderstel om daardie eerste seks vir altyd as iets moois te koester. Lily, aan die ander kant, is só opgeneuk deur haar ouma, dat sy glad nie meer die vermoë het om uit te reik na ander nie.

Daar is één mens wat gereeld kom troos soek by Lily, en dis haar kleinsus, Grace. Die verskrikking is egter dat Grace júís by Lily kom hulp soek, omdat sy ook bulimie ontwikkel, maar selfs Lily is te blind, té afgestomp, om híérdie olifant te sien.

The Elephant in the Room is iets vir elke skoolbiblioteek!

Onnies, dis ’n wonderlike boek om in die klas te bespreek – veral met ’n klomp meisiekinders. Dring aan daarop om dat julle skoolbiblioteek dit koop. Laat die girls dit lees.

Ma’s, gooi dit in die tienermeisie se kerskous saam met ’n paar Mills & Boons. Jy hoef niks te sê nie. Laat sy dit net lees. (Maar jy moet dit self ook lees.)

Maya spreek báie meer as net eetversteurings aan. Sy vang die psige van ’n jong buitestaander op ’n roerende wys vas. Julle móét hierdie boek lees om dit kan ervaar.

Wie is Maya?

Ek het Maya ongeveer twee jaar gelede ontmoet tydens ’n skrywerswerkswinkel. Sy was blond en pragtig, maar hemel . . . diep binne in daardie skraal lyf het ’n woede geskuil wat ek nie kon kleinkry nie. Aan die einde van die naweek het ek by haar gepleit om aan te hou skryf, want, het ek gesê, “Jy het soveel talent, jy gaan mal word as jy dit nie gebruik nie.”

Toe niks. Sy het my nie genader nie, en ek, lelike ou man, wou nie verkeerde flikkers gooi nie. Skielik, eendag . . . Hier kry ek ’n nota van die Pers af dat Maya Fowler deur Kwela uitgegee gaan word. Nou, mense, Nèlleke de Jager, die grootbaas van Kwela, gee nie enige een uit nie. Glo my. So, as Nèlleke dink iemand is goed . . . dan kan jy maar die boek lees.

Natuurlik het Maya nie my aansporing nodig gehad om te skryf nie. Sy het haar eie stem gevind en het elke dag, oor middagete, in haar motor gaan sit (daar onder die brug by die hawe) en geskryf. Dís deursettingsvermoë.

Julle kan dink dat ek gebrand het om haar boek te lees. So ek was dáár die aand toe dit bekendgestel is. (Kliek hier as julle my nie wil glo nie!)

Maya het intussen haar hare swart gekleur, maar aan die talent is niks verander nie. Ek wag gespanne vir haar tweede boek. Intussen, koop The Elephant in the Room en lees dit. Julle sal nie spyt wees nie. As julle Ons is nie almal so nie, geniet het, dan gaan julle dié een ook geniet.

En, onthou, as julle tienerdogters ken . . . Die boek is meer werd as ’n preek – dit sal beter werk ook. Trainspotting preek glad nie oor dwelms nie, ditto met The Elephant in the Room en eetversteurings. Die boek vertel net. En, hemel, Maya Fowler kán vertel.

The Elephant in the Room is ’n baie, baie sterk debuut. Lees dit. Kwela gee dit uit.

Die ISBN is: 9780795702846.

2 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Comments


bottom of page