Wat is vrek snaaks, baie stout en begin om 07:00 die oggend in Kirstenbosch? The Birds, die Engelse vertaling van Aristophanes se klassieke Griekse klug.
Jip. Dis ongeveer 2 500 jaar gelede geskryf, maar daar is steeds heelwat ooreenkomste met vandag se samelewing. Wees egter gewaarsku: Die Grieke het nie ’n Victoriaanse, kwasi-morele godsdiens beoefen nie. Hulle was biseksueel en was daarop uit om soveel seks as moontlik te hê. Ou Aristophanes het ongetwyfeld sy mark geken en het vir hulle geskryf. Roy Sargeant, die regisseur, sê dan ook in sy programnotas dat vandag se slapstick al die pad teruggevors kan word na Aristophanes toe. Dink bietjie wat sal gebeur as Leon Schuster gevra sou word om ’n opvolg te skryf op Lipstick Dipstick ... (die SA-weergawe).
Die enigste verskil is dat Aristophanes deurentyd bytende kommentaar lewer op die samelewing.
Dit maak uiteindelik baie goeie teater; gek en klugtig, maar ook slim en bytend. Wat meer is, dit word in die buitelug opgevoer. Jy sit op kliptrappies in ’n klein, intieme amfiteater, nes die ou Grieke van ouds. En die Grieke het ook so vroeg in die oggend die dag begin met ’n drama. (Beskaafd, nie waar nie?)
Sargeant het ’n teks van Gilbert Murray geneem en effens aangepas. Hier is sy eie woorde:
The text we are using is essentially the translation of Gilbert Murray with the naughty bits brought back in. As nothing was sacred to Aristophanus, we trust his shade will forgive us if some of our interpolations don’t treat his text with absolute reverence.
Ek het die teks baie maklik gevolg, al is Murray se vertaling ’n kopknik na die ouer Engels. Ek het egter wel gehoor dat een van die Afrikaanssprekende teatergangers vir ’n vriendin gesê het dat sy moes konsentreer om die Engels te volg.
Ek het die voorreg gehad om ná die tyd saam met Cecile Cilliers ontbyt te eet en haar ongelooflike insigte in die ou wêreld het my die teks stuk nóg meer laat geniet. Van belang is dat sy ook die produksie goed gevind het – julle hoef dus nie bloot my woord te aanvaar nie.
Gaan dus. Neem ’n oop gemoed en neem kussings. Daardie kliptrappies is hard. Selfs my vet boude was seer na 90 minute – en ek hét ’n kussing gehad.
Die stuk is nie vir kinders nie, hoewel ek twee meisies van ongeveer sestien dopgehou het (die jongste in die gehoor). Hulle het duidelik die grappies verstaan en was geamuseer daardeur. Ek ken veertienjariges wat volwasse genoeg is om die stuk te volg, en ek ken veertigjariges wat g’n snars daarvan sal verstaan nie.
My enigste kritiek is dat die veiligheidswagte by Kirstenbosch nie baie teatervriendelik is nie. Hulle moet beter opgelei word vir sulke geleenthede. En ek dink ook die tuin moet afslag gee aan teatergangers – veral vir hierdie soort stuk.
Ek het ’n seisoenkaartjie by Kirstenbosch en kon dus sonder probleme ingaan, maar eers nadat ek die wag moes oortuig dat ek nie grawe gebring het om sy broodbome te steel nie.
Hoe ook al – dis juis sulke kleinsieligheid wat gemaak het dat Aristophanes hierdie drama geskryf het. Die twee hoofkarakters, Peisetaerus en Euelpides, verlaat die stad se kleinlikhede en oortuig die voëls om ’n nuwe ryk, Cloudcookooland, tot stand te bring. Alles verloop skynbaar glad – tot die gode ’n wulpse vrou stuur om Peisetaerus se knaters te koop.
Die stuk speel tot en met 15 Januarie. Moenie dit misloop nie.
Tegniese goed:
Roy Sargeant is die regisseur.
Nhlanhla Mkhwanazi het die choreografie behartig – hy is duidelik ’n voëlkenner, want sy spelers maak hulle karakters puik na.
Die hoofrolle word gespeel Jeroen Kranenburg (wat werklik snaaks is) en Nhlanhla Mkhwanazi (wat ’n heerlike, plaaslike geurtjie in die bredie gooi – tot die gehoor se groot vermaak).
Anele Situlweni en Frans Hamman laat jou heerlik lag met hulle wonderlike voëlmaniere terwyl hulle die twee mense na die voëls lei.
Michael Inglis is ’n puik hoep-hoep.
Die res van die groep, Wiseman Sithole, Armand Aucamp, Francis Chouler, Riaan Visman, Lee Roodt, Anele Situlweni, Melissa Haiden en Zondwa Njokweni, speel almal hulle harte uit met baie goeie komiese tydsberekening.
Michael Tuffin het die musiek spesiaal geskryf vir die stuk.
Groot applous moet ook gaan na Keith Anderson wat vir die kostuums verantwoordelik was.
Ondersteun ons plaaslike teater. Die Voëls is nie so briljant soos Aristophanes se Lycistrata nie, maar dit is goed. Die spelers is puik, en as genoeg mense gaan, kan ons dalk volgende jaar Lycistrata sien speel. Ek is seker Sargeant sal nie terughou op die masturbasietonele nie.
Commenti