top of page
Uitmelkbos

SWARE GROETSLAG IN SKUKUZA

n Diens op die grasperk voor die Skukuzakerk in die grendeltyd. Ds. Carl staan regs.

In Skukuza, 2 000 km van Melkbos af, breek more ‘n waterskeidingsoombik aan waar vele trane gestort gaan word.

Na 29 jaar as leraar van die gemeente Krugerwildtuin lê ds. Carl Louwrens die tuig neer. Hy en Sarah verlaat hul geliefde wildtuin en gaan tree af in Pretoria. Amper ondenkbaar: hulle wat so deel van die landskap was soos die reuse-koorsboom by die westelike ingang of die rooibokkies wat voor die kerktrappies wei, verdwyn net skielik van die toneel.

My en Tokkie se bande met daardie karaktervolle kerk, hartlike leraarspaar en gasvrye gemeente (net 80 lidmate) strek van 1998 af. Ons is lief vir hulle. Ons beleef ‘n gevoel van “behoort”. In die gees sal ons more daar wees waar ds. Carel buite op die trappies sy afskeidspreek hou. Weens Covid-19-protokolle kan hy nie vir oulaas die kansel bestyg nie.

Sal wat wil gee om insae te hệ in die kaleidoskoop van herinneringe waarmee Carl en Sarah more gaan groet – aan verwoestende vloede, die krisis van ingrypende rasionalisasie by Sanparke, roerende Paasdienste op die Granokoppie, luiperd-aanvalle op ‘n lidmaat en die seuntjie van ‘n lidmaat, die krokodildrama by die gholfbaan, opwindende half-marathons elke eerste Saterdag van Augustus, gholfdae, die bediening in Mosambiek, die kleuterskooltjie in Huntington – te veel om op te noem.

Oor kerk in Skukuza kan ‘n mens maklik liries raak. In die intieme kerkie in die boomryke personeeldorp in “God se tuin” spoel die gewyheid Sondae verheffend deur jou gemoed. Die kerk spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ʼn wildtuin is. Skukuza se kerkklok is een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die doopvont is in ‘n hardekoolstomp. Die hout, soos die van die preekstoel, kom alles uit die Krugerpark. Alles verraai dis nie jou gewone gemeente nie.

Saam met die egpaar Louwrens op ‘n veldpiekniek in die wildtuin in 2010: Tokkie en die tweeling Jacob en Thomas.

n Stiltenagmaal op ‘n weekmiddag terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom hul eie koorsang aanhef, is baie spesiaal. Dienste word meermale in die natuur gehou: op die die indrukwekkende Mathekenyane-granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe, op die wal van Lake Panic en op die gholfbaan. Paasdienste op die koppie is werklik uniek. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.

Aand-geleenthede op die granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. . ‘n Kerssangdiens eindig ook altyd met ‘n tradisionele agterna-kuier om die kospotte.

‘n Agtelosige vlakvarkmoeder en haar kroos is al deur ‘n skoonmaker binne die kerk toegesluit. Die besorgde ma begin toe benoud teen die deure stamp. Ds. Carl moes ontbied word om die onverklaarbare gestommel te kom identifiseer. Toe hy oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke draf ná die herderlike ontsetting stertjie-orent op ‘n verontwaardigde drafstappie die personeeldorp in.

Besoeke van ander diere soos olifante en hiënas eindig darem altyd buite die kerk en nie binne nie – net een keer het ‘n hiëna by ‘n kerkraadsvergadering om die deur geloer. ‘n Olifant het al sy bolle kom los direk onder die kerkklok.

Veel van die uniekhede van hierdie “uniekste gemeente in die wệreld” is gelukkig onveranderlik. Dis net die gesigte van opeenvolgende generasies wat kom en gaan. Tog: die afwesigheid vorentoe van Carel en Sarah Louwrens beteken nie sommer net ‘n doodgewone verwisseling van mense-seisoene nie. Dit gryp veel dieper.

Die vreemde gedagte om voortaan Sondae Skukuza roe te ry en hulle nie daar aan te tref nie, gaan tyd neem om aan gewoond te raak. Indien ooit.

Vir die twee is die wense vir ‘n gelukkige, gesonde en geseënde rustyd. Die wense kom met dank uit die hart vir hul bydrae oor meer as twee dekades om die periodieke belewing van ‘n boslewe vir ons verrykend en vervullend te maak.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page