(Foto van Laurika verskaf deur Computicket)
Jip, ek het dit toe gaan sien, en dit boonop baie geniet.
Ek het die stuk om twee redes gaan kyk. Ten eerste is ek ’n groot liefhebber van Laurika Rauch en Christopher Thor se musiek, ten tweede ken ek vir Johan Badenhorst, die vervaardiger.
Dit kon dus òf puik, òf ’n teleurstelling wees. Dit was toe werklik genotvol. Die musiek was puik en die storie was bo verwagting goed.
Johan, die reisiger met die domineestem, is ’n baie wydbelese musiekkenner. Laurika se stem is soos warm heuning en Christopher Thor is eenvoudig fantasties. Hoekom was ek dan benoud? Wel, ten eerste is Laurika ’n wonderlike sanger, maar sy’s nie gemaklik op ’n kabaretverhoog nie. Ek het haar al sien optree en in intieme ruimtes is sy net nie so gemaklik soos Ziets of Amanda Strydom nie. Die goeie nuus is, op só ’n verhoog soos die Kunstekaap-teater s’n, en met honderde mense voor haar, kom Rauch tot haar reg; hier kan sy spog waarmee sy goed is: toneelspeel en sing.
Daar is ’n tweede rede waarom ek benoud was: haar musiek is baie bekend en iemand moes al hierdie liedjies só vervleg dat hulle steeds sin maak. Verder ken almal nou al die Mama Mia-resep ... Om alles te kroon is ek nou ook nie ’n grootse rugbyman nie. Ek geniet ’n goeie wedstryd, maar ek is nie fanaties daaroor, soos die meeste van my taalgenote, nie.
Maar dit werk! Die storie, wat ek nie gaan weggee nie, is baie netjies saamgevleg, die toneelspel is oorwegend goed (hoewel ek gevoel het Isadora Verwey in die moeilike rol van Tante Koba het dalk soms te stereotiep voorgekom) en die musiek is regtig baie goed gedoen, want dis ’n puik ensemble wat hulle daar op die verhoog het.
Gaan heen en geniet dit. Stuur groete aan Mannetjies Roux wérk.
’n Klein bietjie meer detail
Die storie is heeltemal nuut, vars en selfs oortuigend.
Baie van ons ken die liedjies. “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Toemaar die Donker Man”, “Op Blouberg se Strand”, “Die Gang” en selfs “My Ou Tante Koba” word deel van die verhaal.
Die stuk speel af in die Karoo. ’n Skoolmeisie (Engela) gaan besoek haar oom en tannie daar op die plaas, Dwarsbult. Soos baie Karooplase maar is, loop daar eienaardige karakters rond tussen die klippe.
Een van hulle, wat op vreemde wyse Toemaar gedoop word, begin bou aan ’n muur, en dan kom besoek die buurseun elke dag die muur om Engela te sien. (Julle kan nou al klaar die liefdesverhaal sien gebeur.)
Laurika, wat op die verhoog verskyn en dan weer verdwyn, speel die ouer weergawe van die skoolmeisie (Engela). Omdat dit ’n musiekstuk is, kan die ouer en die jonger karakters egter soms teenoor mekaar staan en bewus wees van mekaar. Hierdie wonderlike meta-element, gekoppel aan ’n tikkie van die bonatuurlike, maak uiteindelik van Stuur groete aan Mannetjies Roux iets wat selfs ’n siniese blikskottel soos ek kon waardeer.
Dis vet pret!
Die spelers
Engela Sr: Laurika Rauch*, met Nicole Holm as die dubbelspeler
Oom Frans: Deon Lotz* of Eben Genis
Tante Koba: Isadora Verwey
Engela Jr: Kika Smit of Elizca Coetzer*
Katie: Ilse Klink*, met Gilé Motshwane as dubbelspeler
Toemaar: Elton Landrew
Hanna Karina: Steffie le Roux
Anton: Kyle Grant
* Dit is die mense wat gespeel het toe ek gaan kyk het.
Die musikante
Orkesleier, dirigent en klawerbord: Clinton Zerf
Dromme: David Nilsson
Kitaar: Michael Bester
Baskitaar en kontrabas: Werner Spies
Dit was lekker om te sien hoe Zerf die hele vertoning aanmekaar hou; ek het by tye na die monitor sit en kyk om sy aksies te volg, want ek kon dan met die hoek van my oog die spelers sien reageer.
Agter die skerms
Vervaardiger: Johan Badenhorst
Skrywer en komponis: Christopher Torr
Regisseur: Paul Eilers
Musiekregisseur: Janine Neethling
Stelontwerp: Kosie Smit
Kostuumontwerp: Sarah Roberts
Beligtingsontwerp: Mannie Manim
Choreograaf: Aletha Williams
Spesiale vermelding moet verleen word aan Nina Torr wat “Maandag”, die donkie, lewendig gemaak het.
Die stuk word finansieel ondersteun deur Momentum, Rapport, Sarie, kykNET en OFM.
Comments