top of page
Uitmelkbos

STAMBOEK-BAADJIES


Melkbossers, silwervosse en …. – belangrikste rede vir die foto hierbo – met amper eenderse baadjies uit toeka. HvD en Jack Strauss, gewese wolbaas van Calvinia, vanoggend by die pinksterdiens by Sea Park op Melkbos met hul geruite wolbaadjies van so drie of vier dekades gelede.

Ek dra ‘n Harris Tweed; hy ‘n Man about Town. Albei vertoon trots die wolmerk. Myne is die ouer model, kyk die breër lapelle. Jack s’n het egter minder as myne “gekrimp”. Nogal jaloers daarop.

Toe ek in die herfs van 1976 by ‘n manswinkel in Johannesburg instap om vir my ‘n Harris Tweed te koop, was Tokkie aanvanklik ongemaklik dat die baadjie darem te los sit. “Toemaar. Mevrou, hy sal hom ingroei,” het die verkoopman ‘n profetiese insig openbaar. Sy het haar eers opgeruk, maar haar tog teensinnig laat ompraat.

Daardie baadjie is saam Amerika toe vir die Niemanjaar aan Harvard. Baie nagte as die sneeu neerswiep, het ek my gestopte sneeubaadjie bo-oor my Harris Tweed gewikkel wanneer ons gesinnetjie iewers in ‘n “trailer camp” agter in my Corona-stasiewa (1972-model) opkrul.

‘n Jaar of drie gelede is die baadjie George toe. Die verkoopsman had dit helaas nie mis nie. Ek het die Harris Tweed in- en uitgegroei. Die algemene oordeel was dat Johan, my seun, beter in hom sou pas.

Sedertdien het in pa en seun se lywe omgekeerde groei plaasgevind. Ons het mettertyd geoordeel die baadjie sou dalk meer funksioneel wees terug in HvD se kas.

Nou hang hy hier, 40 jaar nadat ek hom gekoop het, in my hangkas in die hoek. My baadjie met die drie etikette: Hand woven – Pure Scottish wool. The Harris Tweed Association Limited. Registered trade mark no. 319214. Elegante herrenkleidung. Frankfurt. Modèle W. Deutschland. Suiwer nuutwol. Pure new wool.

Het hom vanoggennd aangetrek, hierdie stamboekbaadjie van my, spesiaal vir die foto saam met Jack. Dis die dik trui wat die toeknopery nog onmoontliker maak, dink ek.

Maar dit bly ‘n dekselse mooi baadjie. Waar kry jy weer een met so ‘n geskiedenis, karakter en tradisie? Belangriker: sal ek dit kan bekostig?

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page