Die onverdunde onsin wat die politikus Jacob Rees-Mogg oor die ABO se konsentrasiekampe kwytgeraak het, is so tipies Brits soos ‘n tradisionele “Engelse ontbyt” met gerookte haring en daarna spek en eiers met roosterbrood plus worsies, niertjies, sampioene, tamatie, gebakte boontjies, uie, die hele kaboedel.
Ontkenning oor hul wandade in daardie oorlog lệ diep in die kollektiewe Britse psige. ‘n Onthullende demonstrasie van Britse onkunde oor die stukkie geskiedenis het ek op die weeldeskip Queen Mary 2 op pad na Australië gesien. ‘n Militệre historikus van Melbourne, Australië, genl.-maj Michael O’Brien, het die oorwegend Britse passasiers op die skip ongemaklik laat rondskuif met sy mededelings, en veral fotomateriaal.
Die naam Emily Hobhouse het herhaaldelik in sy praatjie opgeduik ( ook name soos genl. De Wet en genl. Louis Botha). Me. Hobhouse se meelewing en ontnugtering oor die lyding van Boerevroue en –kinders agter die doringdrade van die konsentrasiekampe is deur hom as kapstok gebruik vir statistieke en foto’s wat veral Britse vroue na hul asems laat snak het.
Die smartlike foto van patetiese bondeltjie vel en been wat ‘n uitgeteerde Lizzie van Zyl kort voor haar dood was, verskyn in vele boeke oor die ABO. Dit is in die “Illuminations”-teater op die skerm geflits met die byskrif dat 22 000 kampkinders gesterf het. Watter “illumination” was dit nie!
‘n Vrou skuins voor my en my vrou, Tokkie, het haar oë met haar sakdoekie afgedroog en teenoor haar buurvrou geprewel: “I did not know this, did you?”
Toe hierdie patriotiese “Boer” die spreker agterna ‘n kloppie op die skouer gaan gee, het hy met ‘n skewe glimlag lakoniek geantwoord: “People must hear the truth, must they not?”
Mense soos Rees-Mogg sal, helaas, die waarheid nie herken nie al word dit hoe oortuigend aan hulle oorgedra, vrees ek.
Deel dit:
Commentaires