Op die storie van die hond – ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie – wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denbeeldige pad tussen Johannesburg en Kaapstad “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.
Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit op Facebook gedeel, en dit het heelwat reaksie uitgelok, veral ander plekname vir die bytplek, soos Noupoort, en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers liefs verswyg word.
Die skerpsinnige verduideliking van die naam Richmond vir die plek waar die bulhond sy tande ingeslaan het, word toegeskryf aan buurman, adv. Kosie Olivier. Die agtergrond van die 1989-hofsaak kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in die humorboekie “Corresponding” met die “law” deur oud-landdros Wessel Marais.
Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het later versuur. Op ‘n dag los Daisy, die bulhond van die inwoner van die dakwoonstel, ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.
Na ‘n halfuur le die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak voor haar deur. Sy stoom nog meer verwoed as tevore weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi “af”. Haar hond wat rustig voor die katel le en snork het, word gewek en gryp die aggressor, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie.
Buiten dat dit vrek seer was en sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak – en verloor dit in die Kaapse siviele hof. Hier kom my nuutverworwe regskennis in.
Dit bly skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Die verweerder sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; die dier ‘n huisdier is; die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het ( die naturem sui generis); en die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.
Die landdros het in hierdie geval bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.
Die landdros spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis daar so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak. Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oop was vir verkeer!
Comments