Bakleierige bosbokkies
Somer en son en saffier vir my! So dig die slampamperman C. Louis Leipoldt. Wel, vir ons was die somervakansie in Sabiepark somer, son en swembadjie. Vele sorgvrye swem-sessies in die bos is agter ons blaaie.
Vreemde sameloop. Gaan kyk in ‘n Afrikaanse woordeboek onder die letter “s”. Jy sal plus-minus alles daar raakloop wat ons somervakansie gedenkwaardig gemaak het: veel meer as net die sonskyn en swembadjie.
‘n Sakspinnekop het Migael op die knie gebyt (‘n vorige blog).
‘n Slange-onderonsie vlakby die stoep het ons lank vermaak (‘n vorige blog).
Die skuimnespaddas was weer bedrywig op die stoep en het hul gebruiklike wit liefdesnessie (soos skeerskuim) by die watergat gespin.
Op die S4 het ons die eerste keer in helder daglig twee sivette gesien.
Sebras (en wildebeeste) het ons laaste middag verhelder met ‘n lang besoek teenaan die huis en by die watergat.
Uit hierdie alliterasiepatroon is die njalas (bul, ooi en kleinding) wat hulle op 154 kom tuis maak het. ‘n Wonderlike gesig – hoop net nie hulle verdryf die bosbokkies nie.
Dié was van die konstantste besoekers, soos die getroue nagapies. By die piekniekplek het die kragmeting tussen twee bloedjong bosbokrammetjies boeiend verloop.
Die agt kameelperde het ons meer as een keer amper omsingel.
Hiënas , bloukuifloeries, visarende, bosveldvisvangers en ‘n laat piet-my-vrou het gereeld geroep. Hiënas het ons net twee of drie keer keer gesien en bloukuifloeries ook minder gereeld as tevore. ‘n Gekroonde neushoring by Tarlehoet, ‘n indrukwekkende saalbek by die piekniekplek en talle ralreiers by Lake Panic het ruim kompenseer.
In die wildtuin (waar ons nie dikwels gekom het nie) het die leeus en luiperds laaggelê.
Die reën was minder as waarop ons gehoop het – 8mm die eerste nag en daarna ‘n mm hier en ‘n mm daar. Die aand nadat ons weg is, het dit gestort – 22 mm.
Ons het darem nie net warm sonskyndae beleef nie. Minstens vyf of ses van ons 20 dae was bewolk en selfs koel. Een middag is ek met ‘n windbreker aan piekniekplek toe. Ongehoord!
Johan het ‘n kanaal oopgewikkel om goeie knoppiesdoring-braaihout by die kruiwavrag te koop – ook (vir diegene met ‘n biersmaak) kontakte opgebou met ‘n sjebien op pad na Mkuhlu. Hy het ‘n toestel laat sweis om die swembadseil vinnig op en af te rol. Baie gerieflik.
Die Honda het ongelukkig taamlik geld gesluk: nuwe verkoeler, nuwe bande, nuwe agterlig (ná ‘n stampie teen ‘n boom). Die huis se gaspype word alles met voorgeskrewe koperpypies vervang en ‘n spesiale gashok word gebou om aan nuwe vereistes te voldoen.
Aan die positiewe kant: Tokkie se sonkrag-lanterns en ander liggies lyk feestelik, spaar lampolie, is windbestand en sorg vir minder moeite.
Op 8 Maart is ons weer daar om ons verbintenis van 20 jaar te vier.
Comments