Sekere monumentale bokkerops begrawe jy dalk lank en diep in jou onderbewussyn maar op ‘n gegewe oomblik: Woerts, hier spring dit weer uit!
Ry verlede week saam met ‘n eiendomsagent deur Welgemoed om redes wat nie hier ter sake is nie – solank iemand dit net nie gaan staan en vertolk as ‘n wenk dat die Van Deventers op trek staan nie. Ons bly op Melkbos tot ons dood, dankie.
In elk geval, in Chavonnestraat hou sy voor ‘n groterige siersteenhuis stil wat onlangs van eienaars verwissel het. Sy verduidelik die uitsonderlikhede en voortreflikhede, soos eiendomsagente doen.
‘n Beeld van 22 jaar gelede doem skielik voor my geestesoog op. Ons het pas van Bloemfontein na die Kaap verhuis en ek was op soek na ‘n huis, verkieslik in Welgemoed rond.
Het die huis ‘n glasvoordeur?
Ja, antwoord die agent.
Het die huis ‘n gastetoilet in die voorportaal?
Ja, antwoord die agent.
Kyk die voordeur direk op die gastetoilet se deur?
Ja, antwoord die agent.
Is in 1992 die huis gewys toe ek in Welgemoed aan’t huis soek was, deel ek die verbaasde agent mee.
En toe, wat het jy daarvan gedink?
Die herinnering aan die ongelukkige ligging van daardie twee deure is skielik helder voor my. Ook ‘n ander beeld wat ek destyds opgetower het: Van iemand wat onverhoeds uit die gastetoilet stap en sy/haar klere nog ‘n laaste rukkie en plukkie gee. Die volgende oomblik kyk hy/sy ‘n besoeker by die voordeur stip in die oë.
Ek wou nie eens verder kyk nie, antwoord ek. Het net vir daardie agent gesê: Hulle moet die argitek daar by die gastetoilet teen ‘n muur sit en summier fusilleer.
Joe, niks fout met jou geheue nie, sê die agent.
Dankie, antwoord ek, maar sekere dinge maak nogal ‘n indruk op ‘n mens. Jy vergeet dit nooit.
Dit geld ook, en dalk veral, vir sulke onverklaarbare, onvergeelike en monumentale bokkerops. Soos met daardie ongelukkige huis in Chavonnestraat.
Comments