Oortog van die olifante
Sit vanoggend, ons tiende dag hier, skuins voor 09:00 by die piekniekplek, omring deur die formidabele rooi-essenhoute, ens. Luister na die rivier op sy melodieuse kronkelgang na Mosambiek.
Skielik roep Tokkie: Daar’s die olifante. Vyftien grootvoete kom uit die bos, stap doelgerig deur die riete en waad die rivier in Sabiepark se kant toe. Indrukwekkend.
Op pad piekniekplek toe is ons in Wildevy by rooibokkies, koedoes en kameelperde verby. Toe ons ontwaak, was wildebeeste en rooibokkies rondom ons huis. Alles tussen 07:00 en 09:00. Dis wat ek saligheid noem.
Tien dae is verby, maar nee, die luiperd was, na ons wete, nog nie weer op Tarlehoet se stoep nie. Tony Park het hom wel gister om 12:36 by die piekniekplek afgeneem.
Op die stoep was wel al ‘n bobbejaan of twee. Een het trouens by die voordeur ingeglip toe dit in ‘n onbewaakte oomblik oopstaan. Gelukkig was Tokkie op pad ondertoe met die trappies. Die ontmoeting van aangesig tot aangesig het ta ontsenu. Hy het het vinnig laat spat. Gelukkig nie ook op die ander manier laat spat nie!
Rondom die stoep(e) was daar kameelperde, sebras, wildebeeste, rooibokkies, bosbokke en duikers. Nagapies kom gereeld. Vrugtevlermuise duik en swoep. Die bosnagaap het al ‘n paar keer kom piesang soek. Hiënas se spore meng met die van die muskeljaatkatjie in die sagte sand by ons ingang. Jy hoor hul geweeklaag elke aand.
Bloukuifloeries (foto) sorg vir groot plesier. Vertoef lank in die reuse-rosyntjie by die drinkgat, roep hul hees kok-kok-kok-roepe en wys hul reënboogkleure vir die son. Hulle drink gereeld uit die watergat in die geselskap van die sebras, vlakvarke en ‘n peloton gebande muishondjies – opgewonde soos altyd – wat ook al by die watergat gesien is.
TvD is feitlik seker die yslike voël wat sy vlugtig by die watergat opgemerk het, is ‘n breëkoparend – dalk op soek na een van die vet tarentale at daar ronddwaal.
Wat nie onvermeld kan bly nie, is vir eers die stormloop van dagbesoekers aan die wildtuin verlede Sondag in die Jeugdagnaweek. Tokkie was ‘n uur in die ellelange tou by die hek – die langste wag nog. Ek moes omtrent voet in die hoek sit om betyds te wees vir kerk.
(hvd)
Comments