Vlakvark-fiasko.
Dit was ‘n “skerpioenvakansie” soos nie tevore by Tarlehoet nie. Die goggas met hul dodelike knypers het gewemel. Ongelukkig het Marisa een raakgetrap. Die pyn was verblindend. Dae klank was die voet onheilpellend pynlik, verkleurd en geswel ondanks intensiewe mediese sorg en aandag.
Die les was duidelik: as iets in die bos soos gif vermy moet word, is dit ‘n skerpioen se steek. In die opwellende bewustheid by Tarlehoet se inwoners van hierdie gevaar wat in die donker oral skuil, is onder meer ‘n spesiale infra-rooilig (korrigeer asseblief, Jacob!) aangeskaf wat die skelet van ‘n skerpioen ‘n helder geel verkleur. So word die maaifoedies in elke skuilplek opgespoor en voor stok gekry.
“Bronne” verskil, maar ek meen van sowat 10 kan rekenskap gegee word. Verskeie het in ‘n konfytbottel bekand wat deur Ouma verskaf is. In die bottel het ‘n aggressiewe ou ‘n nuwe aankomeling sonder seremonie opgevreet; duidelik nie die soort kreatuur wie se gramskap ‘n vredeliewende mens graag wil uitlok nie.
Nietemin, “operasie skerpioen” was ongetwyfeld ‘n hoogtepunt, al het Oupa verkies om die hakkejag grootliks in die veiligheid van die swembadjie se water mee te maak.
‘n Likkewaangesin van drie het vir ‘n tweede hoogtepunt gesorg. ‘n Ma en twee kleingoed het onder ons dak, begin “plak”. Die meeste van tyd het net hul lang nekke onder die grasbdekking van die dak uitgesteek en het hulle met wakker kraalogies elke beweging van die mensekinders met wie hulle die huis deel, dopgehou. Ons lek nou nog wonde na ‘n vorige likkewaan-episode in ons huis waarin gordyne geskeur, foto’s van die muur gestamp en ‘n hoop breekgoed gebreek is.
Dit was ons hartsbegeerte dat hulle moet skoert. Sabiepark se vanghok is vinnig staangemaak met ‘n eier as aas. Uiteindelik kon een van die kleintjies die versoeking nie weerstaan nie. Hy is agter die eier aan, gevang en ver van Tarlehoet losgelaat. Die ma en ander kind het daarna self padgegee.
‘n Slang op die stoep het ook vir opwinding gesorg. ‘n Swart mamba? Daardie teorie had sy aanhangers. Ek weet werklik nie.
Mini en Maksi, twee semi-mak vlakvarke, het gereeld kom besoek. Mini slag toe daarin om haarself in die buitekamer met sy defektiewe deurhandvatsel toe te sluit. Ons sit op die stoep n hoor net doef, doef, doef. Gewapen met ‘n trapleer, besems en wat nog is ‘n soekgeselskap op die been gebring.
Die arme Mini het bra verleë gelyk toe sy voor die oë van een en almal van Tarlehoet onwaardig uit die buitekamer stoom en in die bos verdwyn. Later het haar afwsigheid aan Maksi se sy vrese oor haar welstand gewek. Was sy luiperdkos? Het sy dalk in ‘n strik beland? Nee, verneem ons later. Anders as ‘n donkie wat nie sy kop twee keer teen dieselfde klip stamp nie, het sy sowaar daarin geslaag om haarself in die tennisbaan se toilet toe te sluit. Sy is eers na ‘n dag of twee se eensame opsluiting bevry.
Hiënas was telkens te sien en te hoor. Een is deur Chistopher afgeneem waar hy plat op sy blaker in die watergatjie sit en afkoel. “Toe ta een aand ‘n koue bad wou vat, kom sit hy plat, plat op sy blad, in Tarlehoet se watergat.” Twee het die paaltjieheining in die nag bestorm. ‘n Klomp paaltjies moes vervang word.
Njalas en bosbokke was gereeld op die werf. Die span kameelperde het twee keer naby die huis verbybeweeg. ‘n Wildebeestrop met iets soos agt kleintjies was die hele tyd in Wildevy en het een aand met ons motorpad opgestap. Verder was daar o.m. koedoes, rooibokkies, duikertjies, sebras, apies en skilpaaie, en aan die front van die gevleueldes ‘n resident-boskraai, piet-my-vroue, bloukuifloeries en baardwipsterte met hul melodieuse lied.
Sebras was minder volop as in die verlede. Wat bitter skaars was, was bosnagape en nagapies. Net enkele kere vlugtig een opgemerk of gehoor. Hopelik keer hulle terug tot ou patrone as die veld nie so welig is nie. Bobbejane was ook skaars. Hul geselskap is met graagte ontbeer.
Comments