‘n Man met ‘n obsessiewe haat vir pampoen geniet aandete in ‘n trein se eetwa. In ‘n onwaaksame oomblik skep die kelner ‘n ruim porsie op sy bord. Die passasier krap die pampoen eenkant toe. Die gewraakte oranje hopie loer steeds vir hom. Toe hy seker is niemand kyk nie, skep hy die slap hopie en werp dit by venster uit.
Ongelukkig was die venster toe!
Lekker gelag oor die storie. Maar ook verleërig onthou hoe ek in standard vyf op Potchefstroom in ‘n losieshuis van die pampoen en kool op my bord ontslae wou raak. Het die pampoen in een broeksak geprop en die kool in die ander. Nie besef dit gaan so ‘n liederlike gemors afgee nie. Ma was amper in trane.
Doris Brasch sing van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ander weggooigoed. Die ashoop is plus-minus waar pampoen destyds in my waardestelsel geklassifiseer was. Later het Ta’ Marietjie van Wyk van Bultfontein – Tokkie se dierbare ma – my leer pampoen eet agter die lekkerte aan. Het aanvanklik gedink dis die heerlikste soetpatats wat uit haar kombuisie kom. Daarna is ek voor in die ry as pampoen geskep word, in watter vorm ook al.
Vriend Chris deel nie my welwillendheid nie. Hy het vasgesteek by die iets-vir-die-ashoop-filosofie. Sy liewe vrou, Annette, berei een aand ‘n feesmaal. Toe sy die sop voor hom neersit, betrag hy dit skepties. “Wat’s dit?” Sy: “Pampoensop.” Hy: “Nee dankie, so honger is ek nie!”
Die nederige pampoen het ver gekom; nie net op die Van Deventer se eetbaarheids-meter nie. Van Doris Brasch se kinderliedjie het dit gevorder tot ‘n Steve Hofmeyr-simbool. In Breyten Breytenbach se poësie is dit so ‘n deurlopende Breytenmotief dat vriende op sy verjaardag pampoendag vier. (Breyten reken glo “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap.”‘) Breyten se pamoen-poësie is aan my onbekend. Ek het wel deernis vir ‘n pampoen-gedig. Hans du Plessis het dit in 1976 geskryf toe ons saam by Harvard was. Die tema was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.
Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe drie, “pampokie” begin noem. Die naam het ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers of so iets!
Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste (soos ook die suid-Kaapse dorp Heidelberg deesdae), kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die kampioen-pampoen kan kweek.
In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandse korrespondente uitermate lief daarvoor om dorpsmense se groot pampoene af te neem en kiekies vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as ‘n pampoen van formaat nie die koerant haal nie.
Uit nog vroeër tye onthou ek die praktyk om pampoene op ‘n plat sinkdak te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Jy sien dit by die Pampoenpadstal op Roete 62. Op Melkbos het die gewoonte onlangs by ‘n moderne huis in Charles Hoffestraat herleef. Twee pampoene het lank op die afdakkie by die voordeur gepryk.
In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n plaaswinkeltjie in my geboortedistrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana. Die winkeltjie het jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort.
Die eienares indertyd was ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, was sy uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim sukkelend op die dak en kom met ‘n meneer van ‘n pampoen grond toe wat Dingaan se maag sou beskaam. Sy prop dit in my hande.
“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was. Inderdaad, Breyten. Toe ek daardie pampoen voor my vasklem op pad kar toe, het ek kompleet die sensasie van swanger wees ervaar!
Comments