top of page
Uitmelkbos

Skemertyd

Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand, deur Izak du Plessis. Resensie: Martie Retiief-Meiring. (LitNet) Martie Retief-Meiring is ’n ou hand met die skryf van resensies, en hier wys sy weer hoekom sy so hoog aangeslaan word. Sy sien die een ding raak wat ’n leser sou opval en hom/haar sal laat verstaan hoekom Du Plessis se boeke so lekker lees – sy skryfstyl en sy gebrek aan skrywerlike pretensie. En dan gee Retief-Meiring ook net genoeg inligting oor die sfeer van die boek (die Wes-Randse skemerwêreld) om die resensieleser wild nuuskierig te maak.

Bos, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Gert van der Westhuizen (Boeke24) Klink na ’n interessante boek oor die land waarin ons woon, en die dinge wat rondom ons vrot. Dit stel ’n nuwe standaard vir die spanningsverhaal, sê die resensent, en hy voel duidelik dat dit ’n boek vir die denkende mens is. Alles goed en wel, maar beveel hy aan dat ons dit lees?

Tweede kanse, deur Stefan Enslin. Resensie: Alet Mihalik (FMR en LitNet) Radio-resensies stel ander eise aan die resensent as resensies vir koerante en tydskrifte. Die resensent hoef nie so kompak te skryf nie, kan rustig uitwei oor aspekte van die boek. Mihalik se deeglike, indringende bespreking gee aandag aan verskeie aspekte van die boek en die skrywer se agtergrond. Haar presis van die verhaal is kundig verweef met die kritiese punte wat sy maak, en die trant is ook van só ’n aard dat ’n mens weet dat sy haar luisteraars nie so vervreem het nie, en hul aandag end-uit sou gehou het. Haar slotopmerking is ’n juweel: “So ’n goedbedoelde skryftaak verdien noukeuriger redigering.”

Wit terroriste, deur Albert Blake. Resensie: Jean Oosthuizen. (LitNet) ’n Puik resensie. Die boodskap wat Albert Blake bring, wek ’n baie interessante reaksie by Oosthuizen uit. Ek het die groter blik op die geskiedenis wat Oosthuizen belig baie waardeer. Dit mag in ons land se geskiedenis letterlik alles swart en wit wees, maar as mens daaroor nadink, is nie alles figuurlik gesproke swart en wit nie. Niemand kan die hoë morele vlak as eiegrond opeis nie. Ook interessant is die aanknopingspunt met rolprente, nes Stefan Enslin se Tweede kanse. Jean Meiring se bespreking van Bos (hieronder) sluit ook daarby aan. Groeiende simbiose?

Bos, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Jean Meiring (Rapport-Boeke) ’n Besonder knap resensie, wat miskien meer vir die outeur en uitgewer sal beteken as vir die potensiële leser – detailkritiek op aspekte van die roman wat beter hanteer kon gewees het. Net op een plek is Meiring onnodig vitterig. Om te sê dat die naam Xing Li meer Chinees klink as Viëtnamees, is totaal onsinnig as mens dit nie vir ’n feit kan stel nie. Dié een uiters subjektiewe opmerking staan lelik uit in ’n andersins baie objektiewe bespreking.

Karaktermoord, deur Carina Diedericks-Hugo. Resensie: Deborah Steinmair (Rapport-Boeke) Ek hou van Steinmair se humorsin. Sy verwys na Diedericks-Hugo, wat een van Afrikaans se suksesvolste jeugboekskrywers is, wat haar hand waag aan misdaadfiksie, en sê dan dat laasgenoemde minder van ’n skrywer eis as jeugfiksie. Hè? Ek’s bevrees, Diedericks-Hugo is een van die weiniges wat daai opmerking sal kan takseer, of dit waar is of nie. Verderaan sê sy van Kaapstad dat die see en die gasvryheid dáár “glo ewe koud” is. Hè? Dis nie wat sy vir my gesê het laas toe ons gaan uiteet het nie.

Die Val/The Fall, deur Johannes van Eeden. Resensent: Gilbert Gibson. (Rapport-Boeke) ’n Waarderende bespreking met baie wedervrae. Maar … Sal die fisieke voorwerp wil sien, die papier wil voel, maar Gibson wen nie my aandag vir Van Eeden se verse nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commentaires


bottom of page