Ses Kollegemanne van weleer – party bles, party grys, party al ietwat skeef en krom, maar almal met harte wat nog warm klop vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.
Die plek? Die primitiewe boskampie Balule aan die Olifantsrivier, naby die Olifantskamp in die KNP. Die geleentheid: die vierde jaarlikse saamtrek van ‘n span 70-plussers wat in die jare rondom 1960 saam aangesit het vir die Kollegekos wat deur onder andere die wellewende Piet April in die eetsaal bedien is.
Vanjaar se saamtrek was spesiaal so op die vooraand van die “Republiek van Kollegetehuis” se eeufees later die maand op die Tukkiekampus. Daarop is ‘n heildronk gedrink uit ‘n botteltjie feeswyn van 1990 toe Kollege feestelik sy 75ste verjaardag gevier het. Die “medisyne” is deur Proppie Goosen met sy ou kamermaat Pierre le Roux uit George saamgestuur. Proppie sou ook vanjaar Balule toe kom, maar ongelukkig moes Lettie ‘n rugoperasie ondergaan.
Die 25 jaar wat verloop het, het nie almal van ons ewe goed behandel nie, maar vir die wyn was dit net wins. Niks fout met die “neus” nie – en pure fluweel op die verhemelte.
Om dit uit die boks te haal, te ontkurk en te skink was ‘n hele ritueel. Die vername taak is aan Vos Grey opgedra. Hy was in 1961 en weer in 1963 huisvoorsitter, die oudste lewende lid van daardie spesie. (HvD, 1962, is die naasoudste. Rowwe gedagte!)
Vos Grey en HvD met die bottel “medisyne” uit George.
Tussen die braai van die wors en die tjops die laaste aand is die glasies gelig en die Kollegelied uit volle bors rondom Pierre se gloeiende kole in die braaidrom aangehef. Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam ….
In die donkerte kon ‘n mens nie die trane op die oues se wange raaksien nie – darem ook nie op die amptelike foto’s van die okkasie wat Tokkie uit alle hoeke geneem het nie. Die foto is hierbo. Van links is Piet Henning van Louis Trichardt, Manie Steyn van Krugersdorp, Vos Grey van Ermelo, HvD van Melkbos, Pierre le Roux van Mosselbaai en Cas Jacobs van Centurion.
Dit was drie dae van enorme vure, groot ure en dik plesiere. Van die koningskos het ingesluit Cas Jacobs se fynproewersfilet met sampioensous en Nella se keurige bratkartoffeln, beetslaai en wat nog, afgerond met flambéperskes en vla. Benewens die stompe uit Sabiepark in HvD se Honda, het Piet Henning ’n kartdondoos vol sskelbos en ander braaihout uit die Soutpansberg gebring. In daardie doos was sweerlik voorheen minstens ‘n hangkas.
Enorme vure, dik plesiere.
Soos die seekoeie tot eerbiedige stilswye gesing is, het die kosmakery op die oop vure die respekte van die kontrei se hi-enas afgedwing. Veral die bedrywigheid met Vos en Magdaleen se beesstertpot en potbrood op die kole het die gulsige diere skynbaar allemintig geïnteresseer. Nie minder nie as drie het in ‘n stadium teenaan die kampdraad saamgedrom om die aktiwiteite te betrag. Wonder of Clover se direksie weet hoe bekwaam hul oud-voorsitter met ‘n graaf die kole kan rondskuif vir ‘n beesstertpotjie en potbrood a la Magdaleen.
Wat is in daai nyslike pot?
Daardie yslike pot – ‘n nommer agt as ek nie mistas nie – het ‘n simbool van die Balulespan se onderskeie fiksheidsgrade geword. Dit vat sterk manne om dit te dra. Hierdie keer was dit Vos en Cas wat die spiere laat bult het. Almal het hulle bewonder. Vir 2016 – ja, natuurlik sal daar dan ‘n Balule V wees – het die twee kieriemanne, Manie Steyn en die uwe, stilletjies ‘n verbintenis aangegaan. Dan dra hulle hom!
Comments