Aangename weersiens van twee gerekende resensente: Sonja Loots en Rachelle Greeff.
Sonja Loots se resensie in Rapport kry reg wat JB Roux ’n ruk gelede nie kon regkry nie - dit benader Nataniël se Dik dun Thick Thin met erns en is daarom oortuigend en gewigtig. Bewus van Nataniël se tekortkominge, maar ook ontvanklik vir sy genialiteit. Sy noem hom ’n “meester van tragikomiese triestigheid”, en reageer dan aan die hand van talle voorbeelde op só ’n wyse dat niemand kan twyfel oor genoemde meesterlikheid nie. Dis vrek snaaks in dié resensie, watter ander plesiere skuil in die boek?
Dan buig sy haar betoog terug na die erns, en gee ’n kort uiteensetting van Nataniël se plek in die wêreld der Afrikaanse lettere: “By al sy ander talente is Nataniël se oeuvre ’n beduidende bydrae tot die queering of skeefskryf van Afrikaans. Vervreemding, verwonding, marginaliteit en ’n volgehoue verset teen die konvensionele is die goue draad wat dwarsdeur alles loop. Die ontheemding van karakters wat nie tuishoort in hul wêreld nie, en die vreemdmaak van die normale vanuit hul randposisies, is ’n onderbeligte strategie van hierdie skrywer se dominante queer-ingesteldheid.”
Rachelle Greeff skryf in dieselfde uitgawe van Rapport oor Emile Joubert se So byna blou, wat Thys Human in September met baie goeie gevolge vir Boeke24 geresenseer het. Wat vir my baie intrigerend is van haar resensie, is dat sy wil-wil swig voor die sjarme van Joubert se satiriese oog, maar dat sy ten slotte terugdeins met ’n ruiterlike erkenning dat sy nie heeltemal sekerheid het oor presies wat opgestuur is en wat “bloot slordig afgewerk” is nie. Uiteraard maak sy my as resensieleser nuuskierig in die proses, dalk het sy geweet dat dit ook die geval sou wees met baie ander resensielesers.
Ek sou tog wou geweet het of sy dink dit is ’n goeie bundel, gedagtend aan Thys Human se opmerking oor die opneem van Joubert se verhale in kanoniserende bloemlesings.
Van Human gepraat - ek het sy bespreking van Chris Karsten se Die versoeking van Thomas Maas vir Boeke24 uiters goed gevind. Die boek is hierna bo-aan my Kerslys.
Opvallend is die dinge wat vir Human uitstaan: Karsten se taalgebruik, sy navorsing en die vrae wat die roman opwerp. Sy resensie is ’n stawing daarvan en die manier waarop hy sy argumentasie struktureer, bevestig sy agting nie alleen vir Karsten nie, maar ook die genot wat die lees van die boek by hom uitgelok het. Hy dui die raakpunt tussen Karsteen se soort speurverhaal en die letterkunde aan, en identifiseer die tematiek.
Goed. Hy moet net nie dink sy lesers het nie agtergekom dat hy doelbewus baie vaag is oor wie die vermoorde persoon in die verhaal is, en wie die moordenaar. Laasgenoemde sal enige goeie resensent uit fatsoenlikheid nie verklap nie, maar die vermoorde ook? Ek ruik ’n rot. Ek het hierdie resensie nou verskeie kere deurgelees, en begin ’n spesmaas kry dat ek eers ná die lees van die boek self sal weet presies hoe knap die resensie geskryf is.
Hoekom anders sou hy opmerk dat selfs Margaret Atwood beïndruk sal wees op die manier waarop Karsten ’n mens se aandag hou?
Comments