Om van die suide af by die Suezkanaal uit te kom, verg versigtige deurgang van seerowerkontrei aan die Somalilandse kus. Dit is waar hedendaagse seerowers steeds skuil en veral in die jare 2007 tot 2012 onheilspellend aktief was.
Van tyd tot tyd roer die seerowers steeds. Trouens, minder as ‘n week voor die Musicavaart, is twee vissersbote, die FV Adria en die FV Txori Argi aangeval. Met die hulp van parate private veiligheidspanne is die aanslag afgeweer.
‘n Reuse-passasierskip is natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur as ‘n relatiewe klein vissersboot. Sulke insidente dien tog om versigtigheid op te skerp by skeepsrederye, asook die internasionale vlootmagte wat skeepvaart in die geweste beheer en beskerm. Spesiale veiligheidsentrums is in o.m. Londen en Durban vir die doel ingerig.
Soos elke ander skip, moes die Musica sy teenwoordigheid dus amptelik aan die militệre owerhede bekend maak, en is sy roete noukeurig gemonitor. Waarskynlik was ‘n goed gewapende fregat of wat op ons skip se stert, nie te ver agter die verste punt van sy kielsog nie!
Op die Musica self, soos op ander passasierskepe, is allerlei gevorderde toerusting soos waterkanonne en veiligheidskameras wat “oral buiten in die kajuite (en genadiglik ook stortbaddens!) kan loer”. ‘n Span opgeleide veiligheidspersoneel met gevaarlike skietgoed was, soos altyd, aan boord. Het nogal gewonder of een nie in ‘n kajuit op dek agt was nie. Een deur was konstant op ‘n skrefie oop. Wat na ‘n weermagstewel met heelwat myle op gelyk het, is as stopper gebruik. (Dalk was die inwoner net ongeneë om ingehok te voel en lief vir vars lug!)
Gordyne in die eetsale is vyf aande lank op die lang skof tussen Port Louis en Aqaba in die Rooisee diskreet laat sak en skerp buiteligte is afgeskakel – o.m. een reg oor my en Tokkie se patryspoort wat ‘n reddingsboot buite verlig. Passasiers is op Woensdag 1 Mei oor die luidsprekerstelsel en met spesiale kennisgewings oor internasionale veiligheidsprosedures ingelig. Party oningeligtes was nogal uit die veld geslaan. Seerowery? Hiervan het hulle niks geweet of verstaan nie.
‘n Kleurkode is op die boot in werking gestel. ‘n Blou kode beteken dat ‘n verdagte skip opgemerk is en dat begin sal word om buitedekke te ontruim. ‘n Oranje kode beteken dat die gevaar wesenlik is en dat passasiers “genooi” sal word om dadelik na binne te kom. ‘n Rooi kode beteken: ‘n noodtoestand. In so ‘n geval sou daar streng bevele van die bemanning wees wat stiptelik uitgevoer moes word.
Gelukkig het ons sulke ongemaklike aksies vrygespring. Die jollifikasie by die swembaddens op dek 13, in die San Remo-casino en in die duisternis klubs en kuierplekkies op dek sewe en elders kon elke aand tot die vroeë ure onbelemmerd voortgaan. Hoe onbesorgde passasiers in ‘n krisis sou onthou watter kode watter betekenis het, en hoe hulle sou reageeer, sou hierdie siniese waarnemer boonop graag wou sien!
Uit die vertellings van ’n passasier op die MSC Melody wat in 2009 deurgeloop het, mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai, blyk dit dat so ’n aanval vir hulle geen grap was nie. Die kawalt het losgebars terwyl die meeste passasiers op ‘n binnedek na operasangers sit en luister het. Die volgende oomblik onderbreek geweerskote die applous en sien hulle net vuurvonke. Bemanning hardloop rond.
Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gebeur is, vertel sy. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down down. “ Alle passasiers is daarop kajuite toe gestuur en beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ‘n bottel water Jamaikagemmer vir die naarheid as vlug in reddingsbote hul voorland sou wees.
Die nag was sonder voorval. Die volgende oggend loer Koos versigtig by die deur uit. ‘n Lïd van die kajuitpersoneel stel hom gerus. “Gaan eet gerus ontbyt”. Die aanslag was afgeweer. Die volgende middag het ‘n Spaanse oorlogskip en ‘n helikopter gekom en die skip tot by Suez vergesel. Daarna is saam met ‘n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend” maar sy sou graag weer wou gaan.
Dat die bedreiging van seerowery aan hulle vat en vir hulle spanning inhou kon ‘n mens ook agterkom aan die bemannning, veral aan die senior offisiere in hul kraakwit uniforms. My eie direkte ervaring was as lid van die sogenaamde “MSC Voyagers Club” (passasiers wat voorheen al op ‘n MSC- skip gevaar het). Ons is deur kaptein Ciro Ponti genooi vir ‘n formele welkom-terug-skemerkelkpartytjie op Donderdag 9 Mei in die deftige Crystal Lounge. Ons gasheer daag toe nie op nie, omdat ons in ‘n “sensitiewe area” is en “belangrike sake” op die brug sy aandag vereis. So het seremoniemeester Maddalena (Mandy) Bucconi ons lughartig ingelig. Die dosyn offisiere wat wel opgedaag het, het met die enkele heildronk egter opvallend elkeen net een slukkie sjampanje geniet, hul feitlik vol glasies op ‘n skinkbord in ‘n klaarblyklik getaakte kelner se hand neergesit en laat vat.
Twee dae later, op Saterdag 11 Mei, het kaptein Ponti self die sluier oor sy geheimsinnige afwesigheid gelig. Op ‘n vrae-sessie in die Teatro la Scala het hy nie doekies omgedraai nie. Hy was die vorige paar dae nie juis sigbaar nie, omdat sy skip hom in ‘n gebied met die “risiko van seerowery” bevind het, het hy opgemerk, en sy hoogste prioriteit is die veiligheid van sy skip, die passasiers en die bemanning. Maar “die gevaar is nou verby”. Die kaptein het gemoedelik en ontspanne gelyk.
In die eetsale is daardie aand gordyne gelig. Buiteligte het ook weer helder gebrand.
(Naskrif. Kaptein Ponti was ook in 2009 gesagvoerder van die MSC Melody met die aanval ten noorde van die Seychelles.)
Comments