Nancy (heel links) en ‘n groupie oud-kollegas by ‘n saamkuier op Melkbos se stoep.
Met die sprake van ‘n “nuwe sakemodel” vir Media24-koerante hou almal wat vir Die Volksblad (soos my generasie hom geken het) of Volksblad (soos die koerant nou bekend is) asem op. Die “hartland” van Suid-Afrika sal in sy hart gewond wees as daardie koerant moet seerkry – gewis die dagblad wat nader aan sy lesers leef as elke ander een in die land.
Hoop maar Media24 se direksie dink diep en deeglik voordat hulle dalk ‘n onbesonnenheid aanvang.
Die kommer oor ons koerant se toekoms is wesenlik, maar dit is nie waaroor ek hier ‘n woord op die hart het nie. My tema vandag is: Die lojaliteit van Die Volksblad se mense. Dit tref in hierdie dae opnuut hoe een en almal, oor die generasiegapings heen, hulle eendragtig met hul koerant vereenselwig.
Toe ek Nancy Oosthuysen gistermiddag in Proteavallei bel om haar oor verwikkelinge in te lig, hoor ek die skok en ontsteltenis in haar stem. Kan dit waar wees dat die geliefde Volksblad met ‘n swaard oor sy kop leef? Dit kan mos nie.
Nancy is een van die Volksblad-veterane. Sy is al amper 20 jaar uit die tuig en word in Julie 79. Maar sy behou ‘n lewende belangstelling in die koerant en kontak met haar oud-kollegas – ook die enkeles wat nog nie afgetree het nie.
Van Nancy het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” vleiend geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas. Ek sou haar nog ‘n paar ander pluimpies wou toevoeg, en ek is dankbaar dat ek dit wel gedoen het in ‘n brief van 2 Mei 1996. Dit is geskryf met haar aftrede. Ek is maar te dankbaar dat die brief my onlangs weer ter hand gekom het.
Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie (sy is maar fyntjies en kleintjies!) in ‘n warm stoel in die subkantoor nie, het ek geskryf. En verder:
“‘n Loopbaan vol onderskeidings lê agter jou en hopelik ‘n heerlike rustige rustyd voor.
“By die wisseling van lewenstyle bring ek graag hulde aan ‘n knap en kordate kollega wat ook vir my ‘n waardevolle steunpilaar was in my tyd by Die Volksblad.
“Ek skryf ook in my huidige Pers-hoedanigheid (ek was toe uitvoerende hoof van koerante), omdat ‘n skof soos joune – oor die dertig jaar van lojale, getroue en sprankelende bydraes tot ‘n handvol produkte – ook in breër Persverband waardering verdien.
“Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot die hoogtes waar hy vandag staan. Daarvoor klink die woord ‘dankie’ bra dun. Weet egter, dit kom uit die hart.
“Ek wens ‘n mens kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het …
“Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens aan Die Volksblad en daardeur ook aan die Nasionale Pers bied. Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet ‘n mens egter maar op jou aanvoeling staatmaak.
“En, glo my, myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van formaat.
“Voorspoed, geluk, gesondheid en alles wat mooi is vir jou en Jan op die pad vorentoe. Laat ek en Tokkie julle asseblief in die Kaap sien. Dit sal ‘n vreugde wees om saam herinneringe oor die goeie ou dae op te diep, miskien oor ‘n vuurtjie langs die see op Melkbosstrand.”
Liewe, Nancy, dit is nou 18 jaar later en baie water het in die see geloop, maar die brief maak my sommer weer bewoë as ek begin dink aan al die wonderlike kollegas saam met wie ek bevoorreg was om ‘n paar sakke sout op te eet. Ek is darem bly ons het mekaar toe wel in die Kaap gesien, ook op Melkbosstrand – en des te meer dat ons ou Volksbladveterane mekaar nou nog van tyd tot tyd in ‘n gees van kollegialiteit kan opsoek.
Comentarii