top of page
Uitmelkbos

SAKDOEK SE SON SAK


Moet ons ‘n traan wegpik vir die nuttige sakdoek?

Ek hoor ontstellende dinge:

  1. Kinders vat nie meer sakdoeke saam skool toe nie;

  2.  Pajamabaadjies kom nie meer met bosakke nie.

In my dae moes ons die skoon sakdoek op die skoolbank neersit met die hande netjies langs mekaar bo-op. Juffrou het dan kom inspekteer of die naels skoon is. Vandag staan in die klaskamer glo bokse snesies vir daardie opwellende lastigheid in die neus, ens.

Self slaap ek al jare met my sakdoek onder die kopkussing. Ek ken egter mense wat hul sakdoeke in die bosakke van hul nagkabaaie bêre.  Hulle soek hulle kaduks vir modelle wat nog daardie gerief bied. Hulle is reddeloos, die arme drommels.  

Hoekom sou dit so wees?    Die gebruike van die nederige sakdoek is immers legio. Vir die manlike lyf (waarvan ek uit die aard van die saak meer kennis dra) bied dit o.m. uitkomste t.o.v. die oog (‘n lastige traan), die neus (die onaangenaamhede wat daar ontstaan) en onder die naeltjie  (as mis gekorrel is).

Vir allerlei ander ongewensde plassies kan jy maar net in jou sak vroetel.  Van sweet tot spuug.  Die oplossing is byderhand.

Een van die toppunte van galante ridderlikheid is in my boekie om ‘n skoon sakdoek te kan uitpluk as ‘n tranerige fliek of iets in dier voege ‘n blinkheid in die mooi ogies van jou metgesel laat opwel.

Deesdae se hartseer-meisiekind moet seker dan maar in haar handsakkie vroetel vir ‘n snesie of hoe?  So onromanties.

Wat prop jy in die bosak van jou beste pak klere as jy die dag so ‘n tikkie ekstra windmakerig wil wees?

En wat doen jy sonder sakdoek aan die oorlogsfront?  Hoe uitgelewer is jy nie as die vyand die oorhand begin kry en ‘n regte-egte witvlag is nie byderhand nie?  In die oorlogsannale lees ons immers dikwels van sakdoeke wat goedskiks as simbole van oorgawe moes dien.  Nou sal iemand seker sy onderbroek moet uitpluk, maar dié is ook meesal gestreep of met kolletjies.   

Hoop die uwe het hier die kat aan die verkeerde kant beet en dat alles net ‘n kwade gerug is. ‘n Lewe sonder die sakdoek, verbeel jou!  Hoeveel armer, en in hoeveel onhanteerbare penaries, gaan ons nie wees nie?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page