(Het oorspronklik verkyn in Sondagblad Rapport.)
Tony en Nicola … en ‘n olifant op besoek by hul huis in Sabiepark.
Sannie van Rensburg pak gereeld die skurke in sy boeke. Die slegte ouens is dikwels renosterstropers, ivoorjagters en avonturiers. Hul teenstanders is geharde veldwagters wat met “Toyotabakkies” ry. ‘n Kelnerin word gegroet: “Tatenda, sisi”. ‘n Mislike vent word pront …wel ..’n “poepol” genoem.
Klink of dit ‘n Botha of ‘n Van der Merwe kan wees wat hier die pen hanteer. ‘n Laevelder. Ten minste dan ‘n Suid-Afrikaner. Dit is nie. Dit is ‘n Park uit Sydney – Park, Tony Park, die skrywer van 17 aksiebelaaide spanningsverhale met ‘n Suider-Afrikaanse adres. Almal blitsverkopers.
Die jongste, “Ghosts of the Past”, het ‘n sterk aanbeveling op die omslag deur niemand minder nie as Deon Meyer. Die boek – oor ‘n raaiselmoord in die ou “Duitswes” – word op die oomblik landwyd bekend gestel. Eerste aan die beurt was Hazyview. Hazyview? Ja, Hazyview. En nie om dowe neute nie, hoor. Hazyview is die naaste groot dorp aan die Parks se “ander huis” waar hulle sedert 2012 om die beurt tuisgaan: ses maande in Sydney, ses maande hier. Tony het in 1995 verlief geraak op Suid-Afrika na ‘n eerste besoek waarvoor hy maar traag was. Sy vrou, Nicola, moes hom behoorlik hierheen sleep. Die oomblik toe hy die Krugerwildtuin binnery, het alles verander. “I was blown away. It was the combination of landscape, wildlife, excitement, the unpredictability, you know. It was unlike any other holiday we’d been on before,” het hy sy bekering aan die tydskrif “Wild” beskryf. Binne die eerste week het ‘n tweede al in die oog begin vonkel. Daarna het hulle vir 20 jaar elke jaar gekom – buiten toe die oud-joernalis en -soldaat in Afganistan militêre diens moes gaan verrig. In 2012 het hy vir hom ‘n boshuis gekoop in Sabiepark, private natuurreservaat, aan die Sabierivier by die Krugerhek – ‘n plek waarop hy versot is.
Agt nuwe Tony Park-boeke het sedertdien op die rakke gekom – almal knewels. Maar tyd om te speel, is daar darem ook. Elke middag in die skemerkelkie-uur kan jy maar weet waar om die Parks (en hul olyfgroen ou Land Rover) te soek. By die piekniekplek langs die Sabie. Met hul lang lense en gelaaide piekniekmandjie is hulle daar ‘n bekende gesig. Geen ander inwoner het so ‘n valkoog vir luiperds nie. Al is die gras en die riete hoe dig, Tony snuffel hulle uit. Sy foto’s op die eienaars se private webblad laat die monde water.
Sabiepark het van Tony toenemend ‘n “Boere-Aussie” gemaak. Dit is waar die milde gebruik van Afrikaanse woorde in sy boeke vandaan kom: “ja, lekker, boerewors, braai, babelaas, ‘dagga boy’” en andere. ‘n Laevelder. Sy mense lees “Die Laevelder”. Hulle koop graag by die Spar op Phalaborwa. En ‘n Hazyviewer. Hy ken Oom Kallie se slaghuis (wat onder meer vleis aan die Wildtuin verskaf) en was bewus van die gewilde Pepper Vine Bar wat intussen sy deure gesluit het. Hy het ook die plaaslike taal Tsonga begin aanleer. Toe steel ‘n verduiwelse bobbejaan sy notas uit die huis!
Oor die Wiltuin skryf hy dat die leser se tone krul. “Sharp and sensory,” noem die Western Australian dit. “Sharp and sensory” inderdaad.
Onthou nog my vrou se skaterlagbui oor ‘n toneel toe Britse “James Bonds” ‘n ontvoerde hoë uit die kloue van die vyand red. Op pad na die Krokodilrivierhek was ‘n erger verkeersknoop as in Londen. Moedeloos pluk een sy vuurwapen uit en trek ‘n skoot in die lug af. Toe ontdek hulle die rede vir die motorchaos: ‘n trop leeus in die pad!
Vir baie resensente is hy die “nuwe Wilbur Smith”. “Since Wilbur Smith in his heyday no one has written as well about Southern Africa than Tony Park,” skryf die Crime Review Magazine onder meer. Maar so onder die vel van die omgewing waaroor hy skryf, het Smith werklik nooit gekom nie, wil hierdie aanhanger beweer.
Dit is nie toevallig nie dat Sabiepark, of eerder ‘n fiktiewe weergawe, deel was van die inspirasie vir sy laaste agt boeke, sê Tony. Hy het die plek ontdek terwyl hy navorsing gedoen vir “The Prey” wat oor onwettige goudmynbedrywighede handel.
‘n Ander Sabieparker, Casper Strydom, was hoofbestuurder van die Fairview-goudmyn by Barberton, en hy was geneë om te help. Hy sou Tony op ‘n toer deur sy myn neem. Hul eerste ontmoeting was vir ‘n braai by Strydom se huis in Sabiepark terwyl die Parks in die Wildtuin gekampeer het. Strydom het hulle rondgewys. Hulle het gekyk na ‘n paar huise wat in die mark was, “en die res is geskiedenis”.
In “The Prey” vind van die aksie plaas in die mynbestuurder se vakansiehuis in ‘n denkbeeldige private natuurreservaat met die naam “Hippo Rock”. Dit is nie juis ‘n geheim nie dat Hippo Rock uitgeknip Sabiepark is. “Hippo Rock” het in verskeie latere boeke opgeduik.
“Ek het talle goeie vriende onder Sabiepark-eienaars en –personeel gemaak. Verskeie van hul stories en wedervaringe is in my boeke opgeneem. Die Afrikaner en die Sjangaan-Tsongamense wat ek ontmoet, is ongelooflik vriendelik en gaan uit hul pad om ‘n mens tuis te laat voel. Hul gebruike en tale het in my skryfwerk neerslag gevind.
“Afrikaans is so ‘n wonderlik beskrywende taal dat ek lief is om iets daarvan in my boeke in te werk. Ek het ‘n Afrikaanssprekende vriend in Johannesburg wat deesdae as proefleer optree. Dit is noodsaaklik, want een keer het ek boerewors verkeerd gespel in een van my eerste boeke (‘n onvergeeflike flater!).
Ander Laveldse omgewings is ook invloede. Die nimlike Sannie van Rensburg trek van Johannesburg na haar familieplaas naby Hazyview. Uiteindelik koop sy en haar Engelssprekende man, Tom, ‘n plek by “Hippo Rock”. Kaptein Van Rensburg los trouens in “The Cull” ‘n misdaad op weens haar kennis van toegangsprosedures by die sekuriteitshek by “Hippo Rock”. Sy model was dié van die werklike sekuriteitspan by Sabiepark!
Die Wildtuin verskaf ook heelwat inspirasie. Boek nommer 17, “Ghosts of the Past” speel deels af in die Krugerkontrei.
‘n Karakter wat in ‘n paar boeke opduik, die safarigids en private speurder Hudson Brand, pas ‘n huis op in “Hippo Rock” – in werklikheid die huis van die mynbestuurder van “The Prey”. Sonja Kurtz, een van Tony se gewildste karakters , woon soms in die “Hippo Rock” Private Natuurreservaat by haar aan-af aan-af kêrel, Hudson Brand.
Die regte Sabiepark word slegs in een boek “The Hunter” by die naam genoem. Daarin voer speurder Van Rensburg en haar span ‘n operasie uit om ‘n klompie nare karakters in die Sabi Sand-wildtuin aan te keer. Voordat hulle toeslaan, kom hulle byeen by die afdraaiplek na Sabiepark vir ‘n voorligtingsessie.
“Soveel van Sabiepark beïnvloed my skryfwerk – die omgewing, die mense wat daar woon en werk, en die wildlewe, Ou ‘Vin Diesel’, ons manjifieke, heengegane resident-luiperd word selfs in een van my boeke vermeld.
“Vir ‘n skrywer is dit ideaal om iewers te kan skryf waar jy inspirasie en vreedsaamheid vind – Sabiepark bied dit alles en meer. “
Comments