In die imposante tweevlakkige Brittaniarestaurant van die QM2 was ons op die onderste vlak teenaan ‘n venster – ‘n tafel vir vier. Toe ons tafelgenote aan tafel 114 opdaag, groet ons mekaar voel-voel soos wildvreemdes. Maar ons aksente – veral die VanD’s s’n – gee gou ons ware kleure weg.
Vinnig ontdek ons ons is vier Suid-Afrikaners. Volgende ontdekking: Ons woon almal aan die Weskus. Trouens, ons is amperse bure. John en Mattie Daniels woon in die private ontwikkeling Jakkalsfontein skaars 30 km noord van Melkbos; ry drie keer per week hier by ons verby op pad na die gimnasium in Sunningdale. Hulle is Engelssprekend maar hoogs tweetalig; hul wortels lê, soos ons eie, in die Vrystaat. John was op Grey – ‘n goeie atleet. (Dit is John en Mattie saam met die VanDs op die foto by die Valentynsete in die Brittania.)
‘n Keer sit ek in ‘n borrelbad by die “Pavillion”-swembad op dek 11 saam met ‘n vreemdeling. Soek lafenis vir my voete. Ons praat oor koeitjies en kalfies. Die gesprek maak ‘n draai by die waarde van die Suid-Afrikaanse rand. My genoot in die borrelbad kom van Polokwane, blyk dit. Sy naam is Lawrence, maar hy is so Afrikaans soos die uwe. En ons sit met mekaar in Engels praat op die QM2!
Enigste mede-passasier met wie my spore voorheen gekruis het, was Isobel de Waal, vrou van die rugbyspeler Albie. Ons het destyds in my Beeld-dae in Randburg naby mekaar gewoon. Isobel se ouer suster, Eveleen van Stilbaai. was saam met my in matriek. Daan du Plessis, Springbokstut, is hul broer. Isobel en Ellen Engelbrecht, vorige vrou van die Springbokvleuel, Jannie, het van Kaapstad tot Mauritius saamgery.
Hoeveel Suid-Afrikaanse passasiers op die vaart was, weet ek nie. Iemand het geraai so 60. Ek dink dit was heelwat meer. Ons twee Melkbossers het onder andere mense van Kaapstad, Somerset-Wes, Stellenbosch, Worcester, Welgemoed, Jakkalsfontein, Pretoria, Johannesburg, Standerton, Polokwane, Durban, Pietermaritzburg en Kathu op die skip raakgeloop. Die Kathumense se van is Goodchild, maar hulle is so Afrikaans soos ekke.
Op die brug was ‘n Duitse tolk. In my gemoed was min twyfel dat jy aan boord meer Afrikaans as Duits hoor. Deon Meyer se “Kobra” onder ‘n hele paar arms het ook herkoms verklap. Miskien moet Cunard sy taalbeleid aan die hand van nuwe statistieke ondersoek!
Iets soos 80 bemanningslede uit die 1 240 kom uit Suid-Afrika. Sowat 30 is kelners. Ons kan slegs vlugtige kontak met Suid-Afrikaners in die bemanning rapporteer:
Die Joubert-jongman van Pretoria wat ná die vergissing by die “Ïlluminations” (blog van 4 Maart) die egpaar weer op die spoor gebring het;
‘n Jong fotograaf wat gekla het: “Dis harde, harde werk, lang-lang ure, maar baie-baie lekker “;
Ons Poolse kelnerin Marzena se vriend Jan van Biljon met wie sy hand-aan-hand Fremantle se strate in is op ‘n verkenningstog;
‘n Kelnerin van Table View wat ons V8-groentesappies kom neersit het by ‘n ontbyt in die Brittania.
‘n man wat Tokkie by ‘n juwelierswinkel gehelp om haar horlosie reg te stel (amper elke aand ‘n uur voorwaarts) op pront Afrikaans.
Vyf dae weg uit Kaapstad hoor ‘n meisie in die “King’s Court” – ‘n gawe plek vir informele buffet-etes as jy daarna voel – ons Afrikaans praat en knoop ‘n geselsie aan. Ons hoor sy is Chantelle Olivier van Klerksdorp. Sy het ook maar vyf dae gelede met die QM2 kennis gemaak. Toe sy wegstap, sien Tokkie die pleisters op haar hakke. Dis swaar dra aan die skinkborde en skottelgoed, van vroegdag tot laat in die “King’s Court”!
Hoe sake in die kombuis staan, weet ek nie. Maar pampoenkoekies, volstruis, geelstert, springbokmedaljongs en “malava”-poeding was alles in ‘n stadium op die spyskaart. Bespeur ‘n mens ‘n SA invloed by die kospotte?
‘n Lekkerte was om by voorlesings name te hoor soos Frik du Preez en genl. De Wet. Van die nimlike Frik het H.O. de Villiers die mense by twee voorleggings vertel; ook van Mof Myburgh, Hannes Marais en die jong yster Eben Etzebeth. H.O. en Robin Jackman was tot by Mauritius op die skip. Hul rugby- en krieketstories was gewild.
Genl. De Wet se naam is met ‘n stewige skoot respek vermeld deur ‘n Australiese militere historikus, Mike O’Brien. Ook name soos Louis Botha en Emily Hobhouse. O’Brien het Engelse in die “Illuminations”-teater na hul asems laat snak met sy stories en foto’s oor die konsentrasiekampe. Toe ek hom agterna ‘n kloppie op die skouer gee, antwoord hy met ‘n skewe glimlg: “People must hear the truth, must they not?”
Wyn-ghoeroe Anton du Toit van Rhebokskloof was tot Mauritius aan boord. Hoeveel kartonne Rhebokskloofwyn verkoop en verorber is, kan ek maar net raai. Die uwe het ongelukkig nie van Anton se wynproe-seminare bygewoon nie – nie uit weersin in wyn en ook nie uit dislojaliteit nie. ‘n “Norminal fee” van $40 (amper R450) was vir hierdie SA-beursie ‘n bietjie styf – selfs vir die eksklusiewe geleentheid om Rhebokskloof se bekroonde sjiraz te proe.
Comentarios