Gevatte koerantopskrifte en pittige byskrifte by advertensies is naaste bloedfamilie.
Dankie aan almal wat op my webblad, op Litnet, op Facebook, op Netwerk24 en in Die Burger land en sand saam gesels – en saam geproes – het oor “Opskrifte wat jou laat proes” (om nou maar Die Burger se opskrif bo my Saterdagstorie te leen).
Een van die saamgeselsers is die bekende Gustaf Pienaar. Juis hy wat die verband tussen opskrifte (koppe) advertensies en getrek het.
Gustaf skryf: ” My ma was ‘n gereelde leser van die ‘Illustrated London News’. Op ‘n keer was daar ‘n Rolls-Royce-advertensie – iets wat selde gebeur het. Die advertensie het gelui dat RR as maatstaf van gehalte gebruik word:
“‘Dis die Rolls-Royce van penne’ sal iemand van ‘n Parker sê. Of ‘Dis die RR van horlosies’ sal van Rolex gesê word. Die advertensie lui dat RR hul ingenieurs gevra het wat hul van dié soort vergelykings dink. Dis vleiend, was die antwoord, maar in werklikheid kan g’n Parker of Rolex ooit RR se gehalte-standaarde ewenaar nie, was die slotsom.
“Onderaan die advertensie was daar ‘n afbeelding van die ikoniese RR-verkoelerrooster met, daaronder: ‘The Rolls-Royce of motor cars’”.
Pikant, nie waar nie? vra Gustaf. Stem hartlik saam.
Pittige byskrifte of advertensieslagspreuke van vroeër wat ek dadelik onthou, is Kit-Kat se “Neem ‘n blaaskans … neem ‘n Kit-Kat”, Cadbury se “glas en ‘n half melk” en Vyf Rose-tee se “Die vyfde roos is vir jou, my skat.”
Vyf Rose het nogal ‘n romantiese snaar geraak. Joko het dalk effens oorgehel na outydse chauvinisme met sy: “Ek hou van ‘n vrou wat die ketel aan die kook hou vir ‘n koppie Joko-tee.”
Die sonbrandmiddel Coppertone had in die 60’s die slagspreuk “Bak brandvry bruin met Coppertone”. Kan nie presies my vinger daarop lê hoekom ek dit nou juis onthou nie: die hondjie of die halsbandjie. Die illustrasie was egter ‘n treffer: ‘n hondjie wat ‘n fraaie vlegselmeisietjie se swembroekie beetkry en haar spierwitte boudjies ontbloot.
Lexington het beloof: “Na aksie ….satisfaksie.” Rembrandt van Rijn, my persoonlike gunstelinghandelsmerk in die sigaretmark, het op sy beurt trots verkondig: “Elke sigaret ‘n meesterstuk.” Ongelukkig het poetsbakkers dit later verdraai tot “Elke hoes ‘n meesterstuk.”
In die ’80’s het David Kramer met sy rooi velskoene en kitaar “gesing soos hy ry” vir Volkswagen Kombi. ‘n Swart belt (in judo) het sy rieme styfgeloop teen die swart kat van Black Cat-grondboontjiebotter: “Swart belt? Nee, swart kat!”
In Engels was daar die meesleurende Firestone-klingel “Dem stones, dem stones, dem Firestones” wat my bybly.
Dan natuurlik Cremora se “It’s not inside, it’s on top” – sy vrou se verrassing vir die ou wat in sy japon kombuis toe sluip vir ‘n middernaghappie.
Dat ‘n pittige advertensie ‘n gevatte koerantopskrif kan word, het die Sondagblad City Press op ‘n keer bewys. ‘n Bekende het agter die tralies beland. City Press het Cremora se boodskap net mooi omgekeer: “He’s inside, not on top.”
Slim subredakteurs en slim kopieskrywers: ek haal my hoed vir julle af. Julle is “tops” soos Cremora. “Ryk en lekker” in Jan Spies se bekende woorde oor sy koffie met Cremora in, wat in die spreektaal ingeburger is.
Komentarji