Stel jou voor: ‘n Uitbundige klomp koerantmense net in lakens geklee, gevlegde blarekrone op die kop, lywe uitgestrek op rolle rooi fluweel, en met yslike goudgeverfde erdebekers vol wyn in die hand.
‘n Romeinse Bacchusfees so uit die boek.
Dit was die toneel met die inwyding van SA se eerste Holiday Inn in die laat 60’s/begin 70’s op Mtubatuba naby St. Lucia aan die Natalse noordkus.
Holiday Inn het persmense vanoor die land na die okkasie genooi. Ons is per SAL na Johannesburg gevlieg en van daar af met ‘n verslete Dakota na Mtubatuba. Op pad met die jolige vrag, het die Rand Daily Mail se man, ‘n oud-vlieënier, die mikrofoon gegryp en gemaak-ernstig aangekondig: “Ladies and gentlemen, in the case of any extra oxygen being needed … we are all buggered.”
Die lagbui wat deur die Dakota gespoel het, had tog ‘n ‘n element van senuweeagtigheid as onderbou.
Na bewering het die grapjas later agter die stuurstang ingeskuif. Daar was selfs ‘n bewering dat hy die ou rammelkas op Mtutatuba neergesit het. Glo dit darem nie. IN elk geval, op die lughawe was nie trapstelle op wiele soos in moderner tye nie. ‘n Leer moes op ‘n vragmotor se bak staangemaak word om die passasiers op die grond te kry.
In ‘n skielike windvlagie het rokkies hoog gewapper. Die helpers wat aan die onderpunt van die leer gestasioneer was om ‘n helpende hand te verleen, het vir hul moeite allerlei bonus-waarnemings te beurt geval.
Die aand se verrigtinge is ná ‘n halfeeu steeds in die ou man se geheue ingegrif. Die kleredrag was eenvormig: net ‘n laken en ‘n gordel. Vir groter posture en posture wat ruim met kurwes bedeeld was, was dit nogal ‘n uitdaging om te bedek wat ter wille van die goeie sedes alles bedek behoort te wees.
So sonder sakke was bykomende toerusting soos pakkies sigarette en lipstiffies ‘n oorlas waarvan net op een manier ontslae geraak kon word. Dit is in onderbroeke, amperbroekies en bra’s ingeprop (ek meen ons het destyds nog van buustelyfies of vormdrag gepraat). Die uithaal was meermale ietwat onelegant. Veral as dit ‘n pakkie 30’s was, soos my Rembrandt Van Rijns.
Die wyn het nie opgeraak nie. Die yslike goudgeverfde glase was nooit leeg nie. Die ontspanne gees wat die verrigtinge gekenmerk het, het al hoe meer ontspanne geraak. Dames, meesal darem getroudes, het later op hul metgeselle se skote beland. en al hoe meer been het verleidelik onder die lakens uitgesteek.
Oor die komplikasies by die geriewe vir mans sal ek nie uitwei nie. OOr die komplikasies by die geriewe vir vroue kan ek natuurlik nie uit eerstehandse kennis uitwei nie. Tokkie het wel in my oor gefluister dat dit ’n “gedoente” was.
Die volgende oggend is ons op wildritte die pragreservaat Hluhluwe binne, waar die vrolikheid van die vorige aand ondanks ‘n suwwe gevoel in die kranium onverpoosd voortgesit is. Gelukkig was ons nie in lakens geklee nie, maar in ‘n verskeidenheid velddrag volgens eie smaak.
Te laat was ons almal terug in die Dakota vir die terugvlug. Nog op pad Goudstad toe het die donkerte toegesak. Ons was nog nie naby Grand Central-lughawe nie toe die laaste SAL-vlug van die dag Bloemfontein toe opstyg. SAL was toe nog die enigste opsie. G’n Kululas, Mango’s, Safairs en die klas ding nie.
Wat nou? Ek en Roland Solomon van The Friend was taamlik gespanne omdat ons teenwoordigheid op kantoor die volgende dag nie onderhandelbaar was nie. Holiday Inn bied toe soos goeie gashere gul aan om ons in ‘n klein Piper Vrystaat toe te vlieg.
Die ongetroude Roland se reaksie was ‘n gilletjie. Hy het Tokkie – wat hy Klokkie genoem het – aan die arm gegryp en gepleit dat hulle twee ‘n verenigde drukgroep vorm om die onheil af te weer. Haar eggenoot was egter onversetlik.
Uiteindelik is ons in die kleine Piper: die vlieënier en die forsgeboude Claude Cawood (fotgraaf) voor; ek, “Klokkie” en Roland agter ingeprop. Toe ons by die huis in die bad klim, sien ek hoe het Roland haar op onbehoorlike plekke pimpel en pers geknyp. Siestog, hy was baie bang.
Laat my bely dat ekself in stadiums bra benoud was as die klein goggatjie met die woerende skroef bokant die donker Vrystaatse vlaktes so heen en weer kantel. Maar ‘n uitstappie om te onthou, was dit gewis.
Van toe af ‘n stoere Holiday Inn-man gewees.
Commentaires