Pas meer swartrenosters in twee dae in Sydney gesien as in al die jare in die Krugerwildtuin. Enkele verskille: Sydney se renosters staan op stadspleine. Hulle leef nie in die bos nie. Hul horings is niks werd nie. Hulle is ook nie swart nie maar alle kleure van die reënboog.
By die eerste tien of wat het ek en Tokkie beurte gemaak om vir foto’s te poseer: Voor die Operagebou; met Sydney se beroemde hawebrug in die agtergrond; in die botaniese tuine; voor die stadhuis in George Street; by die skilderagtige Queen Victoriagebou met sy ritse deftige restaurante en boetiekwinkels, by die beroemde Manly Beach (waarheen ons per veerboot is).
Later het ons gehoor daar is iets soos 55 sulke renosters oor die stad heen versprei. Plus nog 70 kalwers van kleiner formaat. ‘n Onbegonne taak om by almal uit te kom en af te neem, al ry jy die ganse stad en omstreke in die rooi bus plat.
Die groter renosters is deur van Australië se bekendste kunstenaars versier: vrolik bont in ‘n wilde verskeidenheid van kleure en patrone – blokkies, strepe, driehoeke, blommetjies, sterre… Verbeeldings is werklik vrye teuels gegee. Die versiering van die kalwers is die werk van skole, van Wagga tot Wenona. Elkeen het alles in die stryd gewerp het om hul mededingers in oorspronklikheid en kreatiwiteit te troef.
Alles is deel van ‘n reuse-bewusmakingsprogram, gedryf deur daardie land se bekende Taronga Zoo in Dubbo, wat self met iets soos 15 renosters spog, swartes en wittes. Die veldtog word aan die uitwissing van renosters in hul natuurlike habitat soos in Suid-Afrika se wildtuine en natuurreservate gekoppel. Al die geld wat ingesamel word, is bestem vir die wêreldwye red-die-renoster-program.
Hierdie verbeeldingryke “renoster”-seisoen duur nog tot 28 April. Dan word ‘n reuse-veiling gehou.
Raak aan ‘n renoster in Manly Beach.
By Manly Beach het ek oor ‘n roomyshorinkie ‘n ma en haar dogtertjie dopgehou wat nadergestaan het na die kleurryke renoster aan die strandfront se kant toe. Die ma het die kind aangemoedig om aan die beeld te vat, wat sy aanvanklik bra sku, maar later met al hoe meer selfvertroue en vreugde op haar gesiggie gedoen het.
Taronga se idée om deur middel van die koppeling van die wildlewe en kuns die renosterboodskap ver buite sy eie grense aan mense van alle ouderdomme oor te dra, het in daardie geval uitstekend gewerk. Oordeel gerus self aan die foto wat ek byvoeg.
Die Australiërs is ons klaarbyklik een voor met hul red-die-renoster-kampanje. Ook nie net in Sydney en Nieu-Suid-Wallis nie.
Op ons laaste stop voor Sydney was ons ‘n dag lank in Melbourne, bekend as die “Parys van Australasië” Op die boomryke stad se karaktervolle stadsplein, Fed Square, het ons drie koperrenosters aangetref. Mense het tougestaan om by en op die diere afgeneem te word.
Ryperd! Renbosterbeelde in Melbourne.
Die naam van die pragtige, lewensgetroue uitstalling is ‘Run for your Life’. Die beelde nooi die publiek om deel te word van renosters se stryd om vryheid en lewe. Hulle sou in Maart verwyder word – weet nie waarheen nie, maar wens iemand was so ondernemend om hulle na Suid-Afrika te bring. Sou ‘n aanwins wees vir die Kruger-wildtuin … of selfs die Kaapse Waterfront.
Trouens, moet ons nie maar die hele Australiese veldtog huitjie en muitjie oorneem nie? Die uwe weet die spreekwoord lui: “Imitation is the greatest form of flattery,” en op die sportveld vind hy dit maar swaar om die spelers van Doer Onder te bewonder of te vlei. Maar vir hierdie renosterpoging van daardie ietwat anderster nasie lig ek my hoed hoog in alle erkentlikheid terwyl ek “Waltzing Matilda” voor my rekenaar sit en neurie.
Comments