Die dramaturg, Reza de Wet, is oorlede. Sy het aan kanker gely.
Ek was bevoorreg om haar te ken. Sy was ’n intense mens, maar selfs vir die jong student, wat ek in daardie jare was, het sy altyd ’n vriendelike oomblik gehad.
Tydens die openingsaand van Drif het ek digby haar gesit. Sy was ’n bondeltjie spanning met hande wat styf vasgeklem is voor haar. Ek moet erken: Ek het daar en dan besluit dat ek ook eendag soos sy in die gehoor wil sit en sien hoe ’n drama uit my pen opgevoer word. Dalk gebeur dit nog!
Toe, as uitgewer, was ek weer bevoorreg om haar paaie te kruis. Protea Boekhuis het verlede jaar haar liriese stuk, Die see, uitgegee. Hierdie drama het in talle opsigte ‘n kroon gespan op haar werk. Ten eerste het die stuk haar kwarteeu in die teaterbedryf gevier. Meer nog, De Wet, wat die Hertzogprys al twee keer verower het, was vir baie lank nie op die verhoog nie, maar in Die see het sy weer self die kollig betree.
Die stuk handel oor drie slawevroue wat opgelei word as courtisanes vir die Nederlandse bevelvoerder aan die Kaap.
Reza het verlede jaar aan Daniel Hugo, wat Die see vir Protea versorg het, genoem dat dit ook haar laaste stuk sou wees. Sy het reeds in 2007 amptelik afgetree as professor in drama aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad.
Comments