Gedeeltelik bewolk, deur Ruan Kemp. Resensies deur Jonathan Amid (Boeke24) en Fanie Olivier (Rapport Boeke) Sowat van geesdrif het mens lanklaas by twee resensente oor een boek gekry. Ruan Kemp se aankoms as skrywer word paslik gevier met twee uitstekende resensies. Amid sien dinge raak wat Fanie Olivier nie het nie, maar Olivier reageer dan weer anders as Amid op ander punte. Ek stem nie met Olivier saam dat dit nie die resensent se taak is om die geheimsinnige “In memoriam …” voor in die boek toe te lig nie – as ’n resensent iets weet wat vir die gewone leser meer begrip vir die boek onder hande sal gee, dan móét hy dit openbaar. Amid gee byvoorbeeld ’n leidraad oor ’n verband tussen die hoofkarakter, George Moore, en Griet Swart van Griet skryf ’n sprokie, welke opmerking alleen dadelik gesorg het dat ek Gedeeltelik bewolk bo-aan my leeslys geplaas het.
Vervleg, deur Petro Hansen. Resensie: Clari Niemand. (Boeke24) Ek is nie ’n tydskrif-leser nie, en kan nie onthou of ek Petro Hansen se rubrieke al iewers in ’n koerant gesien het nie. Waar het die rubrieke verskyn? Wanneer? Die resensent gee ook geen aanhalings van Hansen se formulerings wat mens kan aanmoedig om na die bundel in winkels te gaan soek nie. Die resensie is dus meer funksioneel as halwe kennisgewing.
Die kinders van die spookwerwe, deur Lize Albertyn-du Toit. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24) ’n Waarderende, begripvolle bespreking van Albertyn-du Toit se debuutroman. Iets in die toon, in die aanslag laat my vermoed dat Die kinders van die spookwerwe nie die soort roman is wat Bekker saans lees voor hy gaan slaap nie.
Volmaan oor die Marico, deur Herman Charles Bosman. Resensie: Johann Lodewyk Marais. (Boeke24) ’n Resensie vir die leek geskryf. Johann Lodewyk Marais skyn goed ingelig oor Bosman te wees, maar laat na om aan te dui of hierdie vertalings, deur Hendrik Jansen, van die herstelde verhale van Stephen Gray se Anniversary Edition is. Dít is al wat die fynproewer wil weet.
Commenti