Hopeloos soos dit klink, is ek by my rakleeftyd verby wat aand-okkasies in die “verre” Kaap betref.
Met hierdie “nee dankie” vir ‘n uitnodiging in die Kaapse Konferensiesentrum het ek ‘n grens oorgesteek. Nog nooit was ek teenoor myself en ander brutaler eerlik oor my onwilligheid om saans my huis vir ‘n doe te verlaat nie – veral as dit ‘n reis van 25 kilometer soontoe sou behels en nog 25 kilometer terug.
In Sabiepark beteken ‘n aand tuis natuurlik kampvuur en braai. Op Melkbos beteken dit sommer rondsit en niks doen nie. ‘n Aandjie tuis is, hoe ook al, ook hier geruime tyd al in elke opsig verkieslik bo ‘n aand uit – die aantrek., die ry in die aandverkeer, die sit en luister na ‘n gewoonlik te lang toespraak, die ginnegapery. Alles net te veel moeite en verdriet, dankie.
Voorheen het ek ander ekskuse gesoek: Onseker of ek daardie aand los gaan wees; het nie meer ‘n formele aandpak nie; verwag moontlik besoek van ou vriende uit die Noorde. Soms kon ek agterkom my aspirant-gashere vertrou nie eintlik my geloofwaardigheid nie.
Nou, nadat ek daardie grens oorgesteek het, is dit makliker. Nee dankie, my rakleeftyd daarvoor is verby. Net dit. Klink erg, maar eintlik is dit heimlik lekker om so sonder slag of stoot (en sonder ‘n witleuentjie) skotvry te kom.
Dan kan ek ook daardie aand, soos al die ander, sonder om skuldig te voel vir my en my vrou ‘n Skotse watertjie skink, my skoene uitskop en salig in ‘n lekker leunstoel terugsak ….
Comments