Die hoogtepunt.
Een van die raaisels van Sabiepark het verdiep. Hoekom, wonder ek, verkies die diere om uit die klein voëlbadjie neffens die watergat te drink? Is die watergat dalk nie so aanloklik en gerieflik soos ons dink nie?
Die water is in elk geval presies dieselfde. Tokkie kan kwalik voorbly om emmers uit die watergat te skep en oor te karwei. Vier tot vyf emmers op ‘n slag. Die jongste gebruikers van die voëlbad vir drinkdoeleindes is die njalas, veral die ooitjies. Hulle volg in die spore van o.m. die koedoes, sebras, bosbokkies, bobbejane en blou-apies.
Die njalabul drink tot sy krediet ook onverstoord en sonder fiemies uit die watergat. Die watervlak verklap dat hy nie die enigste is nie. Die ander dorstiges drink blykbaar in die donker of wanneer ons ons rûe draai.
Die voëllewe was lewendiger as ooit. Spreeus is dreunend soos ‘n vliegtuig in swart swerms hier oor. Tokkie moet eintlik daarvan vertel. Gekroonde neushorings het lang tye hier rondgesit en in die Honda se vensters hul profiele bewonder. Sysies, blou en rooi, het gebad dat die water spat. Bloukuifloeries was aanvanklik volop. Seker kos aan later weggeraak?
Ons pak op. Dat die vervroegde oppakkery so netjies saamgeval het met volmaan was natuurlik onbepland. Was nietemin genoeglik om in die helder maanlig die laaste aand of twee op die agterstoep te braai. Die bos skitter op sy mooiste as die maan ‘n ronde bal bokant die knoppiesdorings hang.
Laasgenoemde blom reeds vir ‘n vale. Ek sit op die agterstoep en skryf. As ek opkyk, sien ek die huilboerboon. Wens ek kon vertel die statige boom is ook al oortrek met sy rooi wasagtige lentedrag. Maar ek is darem ‘n bietjie haastig. Dis nog maar middel Augustus.
Die kameelperde het bly kom en kom om aan die beendere van die ontslape voorvader te kom kou. As jy maar weer sien, knak een sy knieë asof hy op die droë motorpad wil drink – soos die ambisieuse hengelaars in die spreekwoord hul stokperdjie beoefen om op droë grond vis te vang. Twee jong bulle het mekaar misverstaan oor eiendomsreg op ‘n been. Die tradisionele stadige nekgeveg het gevolg. As die twee my met die kamera gewaar, is alle vyandelikhede eers gestaak om die koddige indringer uit die hoogte te betrag. Dan woed die stryd ernstig voort.
Christo, Dalene en Marcus Malan van Pretoria was twee dae hier – ons enigste oorslaapgaste die vakansie, buiten die Claassens-seuns. Hou ons vriende nie meer van ons nie? Kom ons beskou dit liewer maar as nog ‘n teken van oud word. Die 80ste-verjaardae om ons raak al hoe volopper.
Hoogtepunt van die vakansie? Ongetwyfeld die twee luiperds op pad kerk toe. Weet eerlik nie watter van daardie foto’s op my rekenaarskerm moet kom nie.
Comments