Die versoeking was sekerlik groot om te sê dat Die dao van Daan van der Walt net Doppers en filistyne in ’n vreemde gewaad is, maar Willie Burger se oog is meer suiwer as dít. Hy begin wel sy resensie van Lodewyk G. du Plessis (pseud.) se roman (Boeke24) met die flouste moontlike inleiding, maar daarna ontplooi hy ’n baie sterk taksering van die roman wat Afrikaanse lesers aan die gons het.
Die inleiding: Een of ander annonieme vriend se aksioom (dat hy binne die eerste 20 blaaie weet of ’n boek die moeite werd gaan wees) is darem net nie goed genoeg vir die lading diepgang wat Burger daarna vir die leser uitsprei nie. Dis soos om die Mona Lisa te bespreek en te begin deur te sê die muur daaragter laat die raam mooi vertoon.
Omdat Burger hom boonop nie aan die aksioom steur nie, hoekom dit hoegenaamd noem? Pap inleidings maak mens kriewelrig. Kyk maar hierbo.
Wat Burger daarna doen, is besonder knap gedoen. Op ’n manier hanteer hy dit soos ’n geleidelike leesverslag – die irritasie wat mens in die begin het, en dan die manier waarop die leser stelselmatig onder die betowering van die roman kom.
Dit is uiteraard die toets van ’n goeie resensent – hoe hanteer hy/sy ’n roman wat buite alle gevestigde patrone val?
Burger se reaksie is, heel verstaanbaar, dié van ’n deurwinterde literator. Hy soek eers die raakpunte, die verwysingspunte met bestaande romanvorms, en vind dit in die werke waarin die plaas die agtergrond is.
Daarna dring Burger al hoe dieper in die wese van die roman in. Hy lê uit hoe Die dao van Daan van der Walt die verskuiwende visie van Daan verwoord, hoe hy die beklemmende elemente van ’n sekere soort Afrikanerskap (dié wat geanker is in tradisionele godsdiens) van hom afskud wanneer sy eie vaste patroon versteur word.
Burger noem al die verskillende fassette van die ontdoppering van Daan op, en hoe dit te bespeur is in die grein van die werk. Maar hy doen ook vir my iets vrek interessants – as jy hierdie resensie gelees het, sal jy kan volg wanneer mense oor die boek praat. Maar jy sal eers kan saampraat sodra jy die boek gelees het.
Dit is die ou storie van resensies lees van boeke wat mens reeds gelees het. Dit gaan nie vir my daaroor om te sien hoeveel ek met die resensent saamstem of van hom verskil nie. Dit gaan eerder oor die manier waarop hy dinge uitlig wat ek in die lees geabsorbeer het, maar nie werklik gesnap het in die groter konteks nie.
Om hierdie rede is Willie Burger se resensie vir my prysenswaardig. Dit openbaar soveel meer van die werk as wat ’n eerste lees daarvan self gedoen het, maar dit verklap nie die detail nie. ’n Resensie wat jou laat uitsien na die herlees is iets besonders.
Terwyl die identiteit van Lodewyk G. du Plessis nog sub rosa is, is dit ook heerlik om die resensie te lees, wagtend op enige opmerking of verheldering rondom die identiteit van Lodewyk G. du Plessis. Burger hou sy vermelding daarvan tot heel laaste, en dan is dit ook op ’n vlak waar sy opmerking terugbuig in die analise van die werk.
Comments