Ek het vroeër reeds genoem dat ek baie opgewonde is oor Zuma se kabinet (behalwe vir gesondheid). Sy oproep op Pieter Mulder om deel te word van Landbou was veral verblydend, want een van die groot skinderveldtogte rondom Zuma was dat hy, soos Mad Bob, almal se plase gaan afvat.
Vir my is die insluiting van ’n konserwatiewe Afrikaner in daardie belangrike portefeulje ’n uiters positiewe teken. Zuma sê nou aan al die boere: “Ek het julle hoor brom, hier is ’n klinkklare bewys dat julle my oor het.”
Zuma, met al sy foute, het belowe om weer te luister na mense. (Iets wat Mbeki nooit kon doen nie.) Mulder se pos is ’n goeie teken dat daar iets van hierdie belofte kan kom.
Die wit inboorlinge van Afrika bly egter maar vreemd. Ons is altyd dêm gou om enige een wat pragmaties is, te verkla as ’n joiner. Lees gerus PG du Plessis se wonderlike boek Fees van die ongenooides. Enige een wat hoegenaamd wou voorkóm dat vroue en kinders in kampe gesit word, is summier as joiner afgemaak. Tóé al. En nou, meer as 100 jaar later, leer die arme volkie skynbaar steeds nie.
Ek het nou genoeg gegorrel. Daar is twee mense wat dit beter sê as ek – hoewel op verskillende maniere.
1. Mike Trapido se stuk Zuma appointing Mulder should be warmly welcomed kan julle gerus lees. Traps vat heelwat ding raak daar.
2. Dan is daar ons eie Kobus Victor se stuk Klakouse. Ek dink hy sê dit baie goed.
Wat dink julle?
Comentarios