Onder die “ienks” (eerstejaars) van 1958 in Kollege-tehuis was ene Piet Henning van die plaas Sweetwaters, Louis Trichardt. Wat hom van ons gewone vaal Boertjies onderskei het, is dat hy uit die “fênsie” St. John’s College in Johannesburg by Tukkies opgedaag het. St. John’s het van hom ‘n fyner jintelman gemaak as die res. Ongetwyfeld. Engelse private skole maak hul merk op ‘n mens. “
Opstêrs” was “ienk” P.B. Henning egter nooit. Inteendeel! Dié lekker ou uit die Soutpansberg was dadelik 100% “een van ons”. Hy het boonop ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugbyliedjies geken. Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as bekendes soos “Die maan skyn so helder op my p….” en daardie klas ding wat ons Wes-Transvalers graag gesing het as ons, dikwels op ‘n oop vragmotor, van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en Ventersdorp gereis het om op die sportveld te gaan kragte meet.
Piet se repertorium het gevorderde liedjies soos hierdie ene van St. Johns se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High/ we take pride in our virginity/ we take precautions by having abortions/ we are the girls from Rodean High.” Veel meer gesofistikeerd as enigiets wat ons geken het, het ons gedink.
In ons tweede jaar het ek en Piet ‘n “onderskeiding” te beurt geval wat nie in elke geselskap hardop genoem kan word sonder die gevaar van veroordeling nie. Ons was naamlik lede van ‘n klub wat eufemisties as Kollege se Bierklub bekend was. Onder ons het ons sommer van die “Boozeklub” gepraat. Elke Vrydagaand was ons by Ta’ Bella (die Hotel Belvedere) vir ‘n bietjie “tee”. Ek plaas die foto hierbo in die oortuiging dat ons lewens sedert 1959 ons darem van ‘n ewige brandmerk behoort te vrywaar,
In 1963, toe Piet 23 was en ek 22, het hy vir my Ayn Rand se formidabele boek “The Fountainhead” present gegee – een van die beste boeke wat ek gelees het. ‘n Latere geskenk, net enkele jare gelede, was Bill Bryson se kosbare “A really short history of nearly everything.” Die keuse van boeke getuig van hierdie vriend van 62 jaar lank se stoffasie, meen ek.
Deur harde werk en met waagmoed en idealisme het Piet ‘n suikerbaron en ‘n voorste wildboer in Chiredzi, Zimbabwe, geword, ‘n groot werkskepper en sterk bydraer tot die Zimbabwiese ekonomie. Die pyprokende Piet van ons studentedae het as boer die spreekwoordelikw pyp gerook dat die blou walms in die lug hang.
Vir wit boere in onse buurlandjie het dinge weens al die onbekookte grond-dramas natuurlik in die Mugabe-era maar taai geraak, bitter taai. Piet, sy vrou, Moraig, en hul seun, Greg, was van die ergste slagoffers van gewapende plundertogte deur bendes van korrupte, grondhonger oorlogsveterane, polisiemanne en soldate, asook van voortdurende viktimisasie en intimidasie deur grypsugtige politici en amptenare. Hul private wildreservaat, met “lodge”, rondawels en al, is verwoes. Duur, gesofistikeerde trekkers en swaar plaastoerusting vir die suikerboerdery is gestroop.
Die Hennings kon net magteloos toekyk hoe amper alles wat hulle opgebou het, tot niet gaan.
Vandag, 5 Mei 2020, vier Piet sy 80ste op sy plek van herkoms, Louis Trichardt, waar hy nou weer gevestig is. Ek weet hy gaan vir my tong uitsteek dat hy voor my by daardie baken kom. Maar ek is vinnig pad, Piet. Te vinnig eintlik. 3 Januarie is om die draai.
Die laaste jare het Piet moedig aan vele fronte en in vele forums gestry vir. kompensasie vir die enome skades en verliese van miljoene der miljoene wat hulle gely het. Die resultate was maar effentjies teenoor die geld, tyd, energie en geestelike staal wat dit geverg het.
Oor waar hierdie goeie ou Kollegemaat die geestelike stamina kry om so hardnekkig te bly vasbyt, het ek al dikwels gewonder. Andere sou al lankal tou opgegooi en op ‘n hopie gaan sit het. Maar Piet is een van daardie bewonderenswaardige mense wat ligstraaltjies gewaar waar ander net duisternis sien,
Hy rook nie regtig meer pyp nie, soos ek al lank nie meer sigarette rook nie. Hy volhard egter steeds om aan daardie spreekwoordelike pyp te suie deur so waardig en blymoedig teen die aanslae staande te bly. Simbolies is Piet nog altyd ‘n pyproker van formaat. En nog altyd dieselfde kwaliteitsmens van dieselfde staal wat 62 jaar gelede by Kollege aangekom het. Geluk, Piet. Hamba kahle.
Comentarios