Voor oor ek pienk sake gesels, eers gou die volgende: Ek hoop julle weet almal van die wonderlike fietsprojek hier op die blogs. As julle ou fietse het, of as die buurman se kinders te groot is vir die ysters in die garage, hier is die plek om hulle af te lewer. (Ek por reeds ’n vriendin van my vir haar oue ...)
Nou vir die pienk flitse: Coenie Kukkuk, die redakteur van GaySpeak, het vir my ’n e-pos gestuur van Dominic Kessell af. Dominic is baie betrokke by die Good Hope MCC, of te wel die Kaapse Gaykerk, soos ek hulle noem.
Good Hope MCC is ’n heerlike, bont, innemende groep mense wat ’n baie goeie teologie handhaaf. Die mengsel van mense laat my altyd dink aan een Ferzan Ozpetek se flieks. Ken julle Le Fate Ignoranti (of te wel Ignorant Fairies, ook bekend as His Secret Life)? Sy Saturno contro (of te wel Saturn in Opposition) het hierdie jaar by die Gay & Lesbian-filmfees gedraai. Dit het dieselfde gevoel meelewendheid.
Hoe ook al, ek dwaal af. Hierdie heerlike pienk kerk reik elke jaar uit na ’n verstommende ou tannie wat in Gugulethu werk. Mable Solani, hier op die foto saam met Dominic, het in 2003 ’n sopkombuis begin. Vandag is sy ’n dagsorgmoeder vir meer as 50 kinders. Sy gee ook Vigsberading.
Dis vir my lekker om te sien hoe mense omgee. Dominic is ’n great kêrel wat baie lank, op eie houtjie, straatmense versorg het daar waar die stadion nou gebou word. En hy het woema. Dis hoekom ek die ander dag gehelp het om vyftig Chinese speelgoedselfone van batterye te voorsien en toe te draai... Alles vir ’n Kerspartytjie wat Dominic reël vir Mama Mable se werk. (Die geraas! Ons moes elkeen toets.)
As julle meer wil weet, of nie fietse het om te gee nie, maar wel iets wil doen in die Kaap rond die kersfees, kontak gerus vir Dominic by dominic@goodhopemcc.org. (Melt, hy hét ’n partner!)
(Terloops, ek het pas Philip Liebenberg se boek klaar gelees, baie nice, maar dis ’n ander pienk blog se storie!)
As julle meer wil weet oor die “Happy” Good Hope MCC, hier is die skakel.(Daar is ook gemeentes in ander dele van die land, kontak die ouens as julle wil weet. Philip weet ook van hulle. Verder is daar skakels na nog ’n gayvriendelike kerk in Pretoria op GaySpeak, sien hieronder.)
As julle Amanda Strydom se interessante onderhoud wil lees oor, onder andere die dood van Johannes Kerkorrel in GaySpeak, kliek hier en scroll aaaafffff!
Comentarios