Pirow Bekker wat vandag 80 is, was ‘n ruk in die 60’s hoofsub by (Die) Volksblad. Ons het ‘n tydjie saam gewerk. Hy het in daardie jare as digter gedebuteer met die gedig “Peins oor ‘n plakkaat”, wat in my oë die beste koerantegedig in Afrikaans is, hoewel -in moderne idioom – sterk politiek inkorrek.
Gaan lees dit op p. 467 van die Groot Verseboek.
Dit gaan oor die daaglikse plakkaatskrywery in die redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman) se kantoor. Soos Pirow en Oom Bart daar saam aan’t peinse is oor die dag se nuusaanbod, het almal wat hoofsub was, hul beurt gekry. Ook ekke.
Jy sien die rysige gestalte van Oom Bart sommer weer voor jou oë as jy Bekker se gedig herlees.
Veral drie strofes in die gedig het by die uwe vasgesteek. Een is die ware woorde wat vandag nog relevant is:
Dit bly eenmaal onfeilbaar: vrees/dit laat die mens koerante lees.
Die tweede, ‘n reël wat nie juis meer geld nie, veral nie by die wilde ponies nie :
Bly asseblief net bo die nael/op ons bladsy een …..
Die derde die stukkie joernalistieke realisme wat jy as plakkaatskrywer vroeër of later moet besef:
Maar die plakkaat se groot ekstase/kom nooit op afgeleë plase.
Comentários